Raaisel om siekte wat twee broers eis in 3 dae
2010-09-07 22:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Patoloë van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) krap kop oor die dood van twee broers binne drie dae in ’n Gautengse private hospitaal.
Buiten vir ’n besoek aan wildreservate het die twee jong volwassenes nie gereis en nie kontak gehad met ander siek mense nie.
Hul familie is glo verpletter en het gevra dat hul besonderhede vertroulik bly, is aan Beeld gesê.
Die broers is Saterdag en eergister in die Netcare Olivedale-kliniek dood.
Hulle was twee tot drie weke lank siek en het voor hul opname ander dokters besoek met koorssimptome.
Volgens Netcare is die hoofsimptome van die onbekende siekte koors en lewerversaking.
Die hospitaal glo nie enigiemand wat toevallige kontak met die twee gehad het is in gevaar nie en daar was teen gister nog geen nuwe gevalle van mense met soortgelyke simptome nie.
Dit is nie bekend of die twee by mekaar aangesteek het of aan dieselfde bron van infeksie blootgestel was nie.
Alle toetse vir organismes is tot dusver negatief en die Nios is besig met gevorderde toetse vir virusse waarvan die resultate waarskynlik eers oor ’n week beskikbaar sal wees.
Die Nios is Saterdagmiddag betrek en vergader daagliks met die hospitaalbestuur en die departement van gesondheid.