‘Raapie het altyd ’n grap gemaak, kon so lekker lag’
2010-08-31 12:53
By sy laaste vertoning het Raapie Knaapie van die musiekgroep DJ Ossewa ’n staande applous gekry.
Dié applous by ’n vertoning in Zeerust Saterdagaand was nadat hy die mense aan die skater gehad het met ’n nuwe dansbeweging wat hy uit die bloute op ’n deel van ’n nuwe liedjie, “Ek lyk so lekker, want ek eet so lekker”, gemaak het.
Dít is hoe Pieter Rischmüller, oftewel Piet Pompies, sy vriend Dwayne Venter (21) sal onthou.
“Met Raapie was daar altyd ’n grap. Hy het alles vroliker gemaak,” het Rischmüller gisteraand gesê.
Venter is eergisteroggend op slag dood ná ’n motorbotsing op die N4-hoofweg naby Brits.
Venter, Rischmüller, Jerbes de Bruyn, eerder bekend as die Leeuboer en hul klankman, Jaco Harding, was op pad terug na Pretoria toe die botsing gebeur het.
Riaan van Wyk, alias Daniel Jakobus Ossewa, was nie in die voertuig nie.
Rischmüller het voor langs Harding gesit wat bestuur het.
Venter het op die middelste bank gelê en slaap en De Bruyn op die agtersitplek.
Hulle het net onderdeur die brug by die Brits-afrit gery toe Rischmüller ’n swart VW Golf sien wat van die oprit in ’n oostelike rigting op die hoofweg ry.
“Toe ons langs die ou is, maak hy ’n U-draai. Hy het reg voor ons ingedraai,” het Rischmüller gesê.
“Jaco het probeer uitswaai, maar ons het hom getref. Die bus het letterlik deur die lug gegaan en beheer verloor.
Die sleepwa het die bus laat ‘flip’ en ons het begin rol.”
Toe hulle tot stilstand kom, het Rischmüller gesien Harding het sy bewussyn verloor en ’n baadjie onder sy kop gesit.
Hy het De Bruyn uit die bussie gehelp.
“Dis toe wat ek wonder waar is Raapie. Ek het deur die venster gekyk, maar hy was nie in die bus nie.
Toe ek in die pad af kyk, het ek hom daar langs die pad sien lê. Ek het na hom toe gehardloop, maar hy het nie ’n pols gehad of asemgehaal nie.
“Ek het gekyk of ek nie ’n beweging uit hom kan kry nie, maar daar was niks.”
Rischmüller, De Bruyn en Harding is na die Brits Medi-Clinic geneem.
Rischmüller, wat sy elmboog, enkel en rug beseer het, is dieselfde middag ontslaan.
Die ander twee, wat albei rug- en nekbeserings opgedoen het, is gisteroggend ontslaan.
Venter het inwendige beserings opgedoen en is op slag dood.
Volgens Rischmüller het Venter al verskeie kere die laaste maand of twee gesê as hy weer in ’n botsing is, sal hy dit nie maak nie.
Hy is twee jaar gelede baie ernstig beseer in ’n trompop-botsing.
“Hy het altyd gesê ons moet net vir hom morfien gee, want dit is wonderlike goed.
“Raapie het altyd ’n grap oor alles gemaak en kon so lekker lag.”