Regstappe oorweeg oor verandering van Nelspruit se naam
2010-09-22 22:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Lowveld Chamber of Business and Tourism (LCBT) van Nelspruit het geblaf toe hulle 23 000 handtekeninge ingesamel het teen die stad se naamsverandering.
Nou wil hulle byt!
Regstappe in samewerking met AfriForum, waar daar aansoek gedoen gaan word om ’n interdik teen die instelling van Mbombela, die nuwe naam, word tans oorweeg, sê me. Linda Grimbeek, woordvoerder van LCBT.
Die regering het al in Oktober 2009 besluit om Nelspruit se naam na Mbombela te verander.
Die naam se instelling is egter tydelik uitgestel omdat Fifa weens WB 2010 beswaar gemaak het.
Verlede maand het die Mbombela-munisipaliteit stil-stil begin om die nuwe naam in te stel.
LCBT, wat sowat 790 sakemanne verteenwoordig, het twee weke gelede ’n petisieveldtog van stapel laat loop om beswaar te maak teen die naamsverandering.
Binne sewe dae is 23 000 handtekeninge ingevorder.
“Dit gee ’n duidelike boodskap aan die staat dat die prosedures en openbare debatte wat die munisipaliteit vroeër gehou het, gebrekkig was,” sê mnr. Nick Elliot, president van LCBT.
Ná die sukses van die petisieveldtog is ’n vergadering Maandag deur LCBT gehou waarby verteenwoordigers van die ANC, AfriForum, die AHI (Afrikaanse Handelsinstituut), National African Federated Chamber of Commerce and Industry (Nafcoc) en die Mbombela-belastingbetalersvereniging teenwoordig was.
“Die Nelspruit-leierskapsforum is nou gestig om die leiers van alle organisasies wat aan hierdie proses wil deelneem, by die forum te betrek,” sê Grimbeek.
“AfriForum se regspan kyk nou na die naamsverandering se regsposisie en as dit nodig is, sal ons met die saak hof toe gaan,” sê mnr. Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum-woordvoerder.
Grimbeek sê die petisieveldtog, waaraan net inwoners en grondeienaars van Nelspruit kon deelneem, het soveel landwye en selfs buitelandse belangstelling ontlok dat dit nou landwyd uitgebrei gaan word.
“Ons hoop om dorpe en stede wat soortgelyke probleme ondervind, by te staan.
“Die Nelspruit-leierskapsforum sal die bewusmakingsveldtog voortsit en die gemeenskap mobiliseer om op hul regte aan te dring,” sê Grimbeek.