Regstel: ‘Dis nie kruistog’
2009-11-19 22:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Sy is nie besig met ’n kruistog of ’n aanval teen regstellende aksie nie – sy vra bloot vergoeding vir ’n pos wat sy na alle regte moes gekry het.
So het die regspan van kapt. Renate Barnard – wat eis dat sy tot die posvlak van superintendent bevorder word nadat sy glo weens haar velkleur twee keer oorgesien is – gister in die Johannesburgse arbeidshof betoog.
Barnard, bygestaan deur Solidariteit, voer aan sy het nie die pos gekry nie, terwyl dit vakant gelaat is omdat geen ander geskikte kandidaat gevind kon word nie.
Die polisie se verweer was Maandag dat dit hul regstellende aksie- teikens nog moeiliker sou maak as Barnard bevorder sou word.
Sr.supt. Johannes Ramathoka, hoof van die SAPD se diensbillikheidseenheid in Pretoria, het toe getuig dat haar aanstelling die haal van teikens vir diensbillikheid op posvlak nege, vir superintendente, sou bemoeilik.
Adv. John Grogan, vir Barnard, het gister aan regter Paul Pretorius gesê hulle vra nie dat Barnard aangestel word in ’n ander pos of dié van superintendent nie.
“Sy vra bloot vergoeding vir wat sy sóú gekry het indien sy wél die pos gekry het waarom sy aansoek gedoen het.”
Volgens Grogan vermoed hy Barnard het nie die pos gekry nie bloot omdat dit die polisie se regstellende-aksie-syfers sal “deurmekaarkrap”.
“Maar tog is regstellende aksie nie die enigste aspek wat in ag geneem moet word by aanstellings nie. Veral as geen ander kandidaat dan die pos gaan vul nie.”
Hy het gesê Barnard het geen probleem met regstellende aksie nie.
“Maar dan moet dit rég gedoen word. Deur haar nié aan te stel nie is niemand bevoordeel nie. Die pos het vakant gebly en niemand anders kon dit vul nie.”
Adv. William Mokhare, vir die SAPD, het gesê die feit dat Barnard nie aangestel is nie, was nie om haar as individu te teiken of te probeer straf nie. “Dit was om ’n wanbalans te keer, want daar was reeds te veel wit vroue op haar posvlak aangestel.
“?’n Mens kan nie na dié saak in ’n vakuum kyk nie, maar moet dit sien as deel van die groter geheel van regstellende aksie.”
Mokhare het gesê boonop is die ánder (swart en gekleurde) aansoekers wat saam met Barnard vir die pos aanbeveel is ook nie aangestel nie.
“Dit is dus nie meer ’n saak van onregverdige diskriminasie hierdie nie, maar eerder een van Barnard se ongelukkigheid dat ’n pos nie gevul is nie.”
Pretorius het uitspraak voorbehou.
Mnr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het gister gesê hulle was veral ontsteld oor die polisie-regspan se “rasse-tirades” tydens die hofsaak.
Volgens Hermann gaan Solidariteit die gebeure in die hof dokumenteer en aan mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, stuur.
“Ons wil by hom weet of die regering ook sulke harde, rigiede sieninge oor regstellende aksie het. Sy reaksie sal dan ons optrede bepaal.”
Volgens Hermann is Barnard se saak ’n “sterk regsaak”, maar wil hulle ook die politieke aspekte van regstellende aksie verken.
“Mokhare het opgetree namens die SAPD, met ander woorde sy sieninge verteenwoordig hulle s’n.
En dis kommerwekkend dat die polisie blykbaar meer ingestel is op ras en regstellende aksie as dienslewering.”