Robbie ‘lieg nie oor wanneer alles begin het’
2009-11-11 02:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Robbie Klay het gister getuig Jurie Els het anale seks met hom gehad toe hy reeds 12 jaar oud was, terwyl hy vroeër getuig het dit het voor sy 12de verjaardag gebeur.
Klay (23) het gister in die hooggeregshof in Pretoria volgehou dié verandering in getuienis is nie ’n leuen nie.
“Daar is ’n klomp goed wat ek nie kan onthou nie...Ek praat die waarheid, maar ek kan nie elke voorval onthou nie.”
Els word van onsedelike aanranding aangekla. Die staat beweer Els het Klay onsedelik aangerand toe dié tussen 11 en 16 jaar oud was.
Klay het verlede week getuig Els het anale en orale seks met hom gehad, asook van wedersydse masturbasie.
Adv. Danie Dorfling, namens Els, het gesê Klay het vroeër getuig hy was nog nie 12 jaar oud nie toe die tweede voorval van anale seks plaasgevind het.
Dorfling het ’n verklaring van Klay in die hof voorgelees.
Daarin beweer Klay onder meer dat Els gesê het die internet is “vol van meisies”, dit is ongesond om met ’n stywe broek te loop en met ’n onderbroek te slaap, en hy (Klay) kon kaal in Els se huis loop. Luidens die verklaring het Els hom gevra of hy al masturbeer en hom vrye toegang tot sy video’s gegee.
Klay het in die verklaring gesê die voorvalle het gebeur toe hy tussen 11 en 12 jaar oud was.
Dorfling wou weet hoekom niks van anale seks daarin gesê word nie. “Beteken dit daar was nie anale penetrasie voor 12 nie?” het hy gevra.
Klay het geantwoord daar was eers anale seks nadat hy 12 geword het.
Dorfling het aan hom gesê hy het vroeër onder eed getuig ’n klomp voorvalle, wat anale seks insluit, het voor sy 12de verjaardag gebeur.
Klay het volgehou hy jok nie, maar toegegee hy kon hom weerspreek het.
Hy het voorts getuig hy het “al die voorvalle” in ’n “asblik” gesit met ’n deksel daarop. Ná ’n oproep van Beeld verlede jaar (waarna hy die beweerde molestering geopenbaar het), het dié asblik “oopgebars” en “op my kop omgekeer”.“Dit was chaos.”
Dorfling het gesê die staat het in die aanvanklike akte van beskuldiging by die een aanklag van onsedelike aanranding beweer daar was anale seks vóór 12 jaar. Nóg ’n bewering daarin was dat Els aan Klay se geslagsdeel gevat of dit gestimuleer het.
Die staat het die akte later gewysig. Al die “lelike goed”, soos anale en orale seks, is uit die aanklag gehaal, het Dorf-ling gesê.
In dié aanklag word nou slegs beweer dat Els aan Klay se geslagsdeel gevat of dit gestimuleer het voordat hy 12 was, het Dorfling gesê.
Hy het nie aan adv. Corli Bouwer, staatsaanklaer, gesê sy moet die bewerings oor anale en orale seks uit die aanklag haal nie, het Klay getuig.
- Beeld