Roets se nuwe rol
2011-04-06 21:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die sanger Mathys Roets was die afgelope naweek die gesamentlike wenner van sy eerste 10 km-rolstoelwedloop op ’n grondpad.
Dit was vir hom “hard, uitdagend, maar lekker”.
“Die laaste keer toe ek nog kon hardloop, het ek die 10 km uitgehardloop. Dié keer het ek dit uitgerol en gewen,” het hy gister trots gesê.
Hy en twee vriende, mnre. Pieter Pretorius en Jacques le Roux, almal parapleë, het saam na Memel in die Vrystaat gereis vir die wedloop.
“2 km voor die eindpunt het ek ’n pap wiel gekry. Toe ek na my patching solution in my sak gryp, was dit uitgedroog en moes ek met my ma-hulle in die motor spring en na ’n koöperasie op die dorp jaag om ander te koop.
“Ek het my wiel net daar met twee lepels reggemaak en teruggejaag om die wedloop te voltooi.”
Roets het gesê die ent na die eindpunt was rof en vol klippe.
“By een van die steilste opdraandes was dit so erg dat my seun, Yuan (8), uit die motor moes spring om my ’n bietjie te stoot, maar dit was nie cheat nie. Die mense het lekker grappies gemaak en ons nogal jammer gekry by die opdraande, maar by die afdraande wou die tannies op ons skote klim en saam afjaag,” het hy geskerts.
“Ons drie vriende is gelyk oor die wenstreep en die beoordelaars het die R300-prysgeld tussen ons verdeel.”
Roets se ander seun, Liam (11), het ook aan die wedloop deelgeneem en is baie trots op sy medalje.
Volgens Roets is dit die eerste grondpadwedloop vir rolstoele waarvan hy weet. “As ek verkeerd is, moet iemand my asseblief tog laat weet.”
Hy het ander parapleë uitgedaag om saam met hom te begin oefen en aan rolstoelwedlope deel te neem.
“Ek en my vriende oefen in die natuurreservaat by die Moreleta-spruit in Pretoria en daarna drink ons ’n bier en verkeer sosiaal. Ons ruil advies uit, kyk na mekaar se stoele en sê wie het beter wiele, soos manne maar is. Dit is mos ons motors.”
Twee maande gelede het hy ook aan ’n 10 km-wedloop op die Universiteit van Pretoria se sportterrein deelgeneem en dit vreeslik geniet.
“Gaan winkels toe, gaan shop sodat mense ons al hoe meer raaksien en die geriewe vir ons verander. Jou lewe is nie verby as jy in ’n rolstoel sit nie.”
- Mense wat saam met Roets wil oefen, kan e-pos stuur aan mathysroets@me.com.