Rowers skiet Jhb-pa
2010-08-08 22:17
’n Man is eergisteraand in sy huis in Johannesburg deur rowers doodgeskiet terwyl hy en sy vrou besig was met aandete en hul baba gelê en slaap het.
Mnr. Louis Rothschild (43) is in die bolyf geskiet toe hy die paniekknoppie wou druk nadat drie rowers die gesin omstreeks 20:00 in hul huis in Blairgowrie, Randburg, oorval het.
Volgens kapt. Cynthia Magoai, polisiewoordvoerder, het Rothschild se moordenaars met sy selfoon, skootrekenaar en beursie gevlug.
Hy en sy vrou, Aviva, het in die kombuis aandete geëet toe die rowers ingebreek het.
Levi, hul een jaar oue babatjie, het elders in die huis gelê en slaap, het Rothschild se ma, Pauline, gister gesê.
Sy het gesê die gesin is nog erg getraumatiseer.
“Dis ’n verskriklike ding wat gebeur het. Die rowers het nie eens gepraat nie, hulle het net geskiet ... Ons is net dankbaar ons kleinkind het veilig in sy kamer gelê en slaap.”
Haar seun en skoondogter was “maar skaars twee jaar getroud” en hy laat ’n broer, David, wat in Engeland woon, en suster, Dorit, agter.
’n Private begrafnis is vir later dié week gereël.
Volgens mnr. Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, is Rothschild op die toneel dood verklaar.
“Toe ons daar aankom, was die man se vrou druk besig om mond-tot-mond-asemhaling op hom toe te pas waar hy op die kombuisvloer gelê het.
Ons het vir nog ’n halfuur probeer om hom by te bring.”
Rothschild, wat tot onlangs opleidingswerk in die versekering- en finansiële sektor gedoen het, se neef, Lance, het hom as ’n “fantastiese jong man” beskryf wat “gelief was as man, pa en persoon”.
“Dit is ’n sinnelose, lafhartige moord wat nou ’n eenjarige babaseuntjie sonder ’n pa agterlaat,” het Lance gesê.
Hy het bygevoeg die gesin wil “sien dat geregtigheid geskied.”
Magoai het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.