Rowers skiet vrou dood; wond dogter
2010-08-03 23:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Onderwyseres van Nigel het gisteraand om haar lewe geveg nadat rowers haar ma koelbloedig doodgeskiet het en toe op haar losgebrand het.
Die rowers het vermoedelik eers by ’n woonstel aan die huis in Van Oudtshoornstraat ingebreek, het ao. Madelein von Wielligh van die Nigel-polisie gesê.
Mev. Lorna Nienaber (49), ook ’n onderwyseres, het blykbaar iets by die agterdeur gehoor en gaan ondersoek instel. Toe sy die deur oopmaak, is sy geskiet.
Haar oudste dogter, me. Win-Ellen Nienaber (23), het dadelik gaan kyk wat gebeur. Die rowers het drie skote op haar geskiet.
Sy is in die maag, skouer en been gewond. Sy het gistermiddag ’n noodoperasie ondergaan om die wond in haar maag te herstel. Haar toestand was gisteraand nog ernstig.
“Ons is hartseer. Die leerlinge kry berading,” het mnr. Hannes Niewoudt, waarnemende hoof van Hoërskool John Vorster, waar die twee vroue onderwysers is, gisteraand gesê.
Vriende en familie het mnr. Jan Nienaber gisteraand ondersteun. Laura-Lee, Jesse-Jay en Janie-Mari, sy ander dogters, is studente aan die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus. Nog niemand is in verband met die moord aangekeer nie.