'Ons kom terug'
2010-12-02 23:10
Jana van der Merwe en MJ Lourens
Lindley. – Plaasaanvallers het ’n driejarige meisietjie alleen na ’n buitekamer geneem en
haar koelbloedig doodgeskiet – vermoedelik omdat hulle bang was sy sou hulle
later kon uitken.
Daarna het hulle haar lykie – nog met ’n pienk
strikkie in haar rooi haartjies – gevat en by die lyk van haar ma in die
hoofslaapkamer van die plaashuis gaan gooi.
Na verneem word, is klein Willemien Potgieter
en haar ma, Wilna (36), albei in teregstelling-styl in die agterkop
geskiet.
Willemientjie, soos sy genoem is, se pa, mnr.
Attie Potgieter (40), se lyk is later buite langs ’n heining naby die huis se
agterdeur aangetref.
Die aanvallers het hom vermoedelik hier oorval
en met ’n skerp voorwerp, vermoedelik ’n panga, op die agterkop doodgekap, en
vermoedelik ook met ’n tuinvurk gesteek.
Toe hulle padgee, het die moordenaars die
volgende boodskap in Sotho op ’n stuk karton op die hek van die plaas
Twee-fontein gelos: “Ons het hulle doodgemaak. Ons kom terug.”
Drie plaaswerkers is gister in verband met die drie moorde in
hegtenis geneem, en later die dag nog twee verdagtes, onder wie glo ’n
17-jarige, in townships in die omgewing.
Teen druktyd gisteraand was nog ’n verdagte soek.
Die Potgieter-egpaar sou vandeesweek hul 11de huweliksherdenking
gevier het.
“Dis nog half onwerklik. Dit was ’n bitter, bitter groot skok,” het
mnr. Arno Potgieter van die buurplaas Van Tondersrust gister oor die moorde op
sy broer, skoonsuster en Willemien gesê.
Die lyke is gisteroggend gekry.
Die gesin was vermoedelik tydens die aanval alleen tuis. Daar was
glo nog ’n bord kos in die mikrogolfoond.
By die besoek van Beeld se susterskoerant Volksblad
gister vroeg aan die plaas het mnr. Potgieter se lyk nog toegegooi onder ’n
pienk kombers gelê op die plek waar hy dood is.
Na verneem word, het mnr. Potgieter vermoedelik eergistermiddag
sowat R7 000 kontant vir lone gaan trek.
Die drie verdagtes wat in die townships woon, het die plaaswerkers
na bewering elk sowat R500 betaal vir inligting oor die gesin se
bewegings.
Mev. Potgieter, wat jare lank by die Oos-Vrystaat Kaap Bedryf (OVK)
se Arlington-tak gewerk het, was ten tyde van haar dood
assistent-takbestuurder.
Mnr. Potgieter het net toesig gehou oor Tweefontein vir mnr. Alex
Macaskill, wat op Marquard woon, en self op die naburige plaas, waar sy broer
Arno woon, met beeste geboer.
Die verdagtes is ná flinke werk van polisielede van verskeie
Vrystaatse eenhede in hegtenis geneem.
Volgens kol. Sam Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, is die
meeste van die verdagtes in die 20.
Bebloede kredietkaarte en ’n bebloede 9 mm-vuurwapen is in ’n
plakkershut naby Lindley gevind. Nog ’n vuurwapen is later op die toneel
gekry.
Charles Smith berig mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se
komitee vir landelike veiligheid, het in sy reaksie gesê Suid-Afrika behoort hom
te skaam vir dié mense in sy bevolking wat ’n driejarige kind en haar ouers
wreed vermoor.
“Die kind was géén bedreiging vir hulle nie.
“Jy kan net een gevolgtrekking maak: Dit is ’n siek gemeenskap, ’n
siek samelewing en dis siek mense wat dit doen.”
Die ses mans het “tot die uiterste gegaan” terwyl hulle die
Potgieters waarskynlik net kon beroof het.
“Dit sê iets van ons samelewing. Hier is ’n gebrek aan moraliteit
en ’n gebrek aan respek vir mense se lewe.”
Die regering het wel onlangs sy stem begin dik maak oor misdaad,
maar ná die gru-moorde is niks gesê nie, het Botha gesê.
“Ek wonder hoekom is hulle nou so stil?” het hy gevra.
“Watter kans het ’n vrou en kind teen ses mans? Om daarna nog die
man in te wag en ook te vermoor, is barbaars.”
Die moorde is nie die ANC se skuld nie, maar is ’n “lafhartige
voorval van misdaad”.
“Die vraag is wat die res van ons doen.
“Die vraag is wat doen hul gemeenskap met sulke mense. Hulle moet
dié mense uitspoeg,” het Botha gesê.
Politieke partye en die burgerregte-organisasie AfriForum het ook
gister sterk op die moorde gereageer en weer verwys na die moontlike uitwerking
van omstrede slagspreuke en struggle-liedjies met woorde soos “dubul’ ibhunu”
(skiet die Boer).

Willemien Potgieter. Die foto is geneem toe sy ’n bietjie jonger was.

Vermoor: Wilna en Attie Potgieter