SA Taxivereniging wil laekostelugdiens begin
2011-06-30 00:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Suid-Afrikaanse Taxivereniging (Santaco) wil teen die einde van die jaar ’n laekostelugdiens begin.
Mnr. Nkululeko Buthelezi, wat verantwoordelik is vir Santaco se sake-ontwikkeling, het gister in Johannesburg gesê die lugdiens is een van die maniere hoe hulle wil uitbrei.
Santaco kyk ook na busse en treine.
“Ek kan sien van julle rol jul oë oor hoe taxi’s op die paaie ry, maar ek kan julle verseker ons sal nie toelaat dat minibusbestuurders ons vliegtuie vlieg nie,” het Buthelezi gister aan potensiële beleggers gesê.
Volgens hom sal die Santaco Express amptelik op 16 September bekend gestel en vlugte hopelik teen November op ’n gereelde grondslag onderneem word.
Buthelezi het gesê Santaco kyk na roetes soos dié van Lanseria na Bhisho in die Oos-Kaap.
Dié roete maak sin, want Santaco se kliënte onderneem gereeld ritte per pad vir ’n begrafnis wat tot so lank as 14 uur per rit duur, net om vyf uur later terug te ry.
Santaco Express sal aanvanklik daagliks een of twee vlugte op dié roete onderneem en later vlugte na die Kaapse lughawe.
Air Aquarius, wat met SA Express en SA Airlink werk, sal die lugdiens bedryf.
Pendelaars sal van die taxi-staanplek na die lughawe geneem word en dan na ’n ander taxi-staanplek by hul bestemming geneem word.
Daar word beplan om die prys van ’n kaartjie tussen R500 en R600 vas te stel.
– Sapa