SA argitek se gebou as beste ter wêreld vereer
2009-11-12 01:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Suid-Afrikaanse argitek het die naweek die prys vir die beste gebou ter wêreld verower.
Mnr. Peter Rich van Johannesburg is by die wêreldargitektuurfees-prysuitdeling in Barcelona, Spanje, vir die ontwerp van die Mapungubwe-interpretasiesentrum in Limpopo vereer.
Dit is die tweede jaar dat die kompetisie gehou word.
Meer as 1500 argitekte en kundiges het 15 finaliste uit 272 projekte van 67 lande gekies.
’n Beoordelaarspaneel van vyf kundiges moes die algehele wenner aanwys.
Mnr. Sühä Ozkan, ’n Turkse argitek en beoordelaar, het gesê Rich se ontwerp dra “’n beeld van kompleksiteit” na die buitewêreld uit.
Rich glo egter die beoordelaars is “keelvol vir glas en glimligte” en daarom het sy “eg Afrika”-ontwerp gewen.
Die gebou staan naby die samevloeiing van die Limpopo- en die Sheshe-rivier in die Mapungubwe- Nasionale Park en sal artefakte van die gebied huisves.
“Die gebou is tussen Julie en September voltooi en die sentrum sal seker volgende jaar vir die publiek oopgestel word,” het Rich gesê.
Volgens hom smelt die gebou by die landskap in en is dit soms moeilik om te sien.
Klippe en gruis van die omgewing is op die dakke van die gebou se vele koepels ingemessel. Klein kleiteëls is in lae oor mekaar op ’n antieke Spaanse manier vasgemessel om die koepels te vorm.
Plaaslike vroue het die teëls op die bouperseel uit sand van die gebied gemaak.
Dit bevat net 5% sement.
“Met dié soort konstruksie het ons die gebou se koolstofvoetspoor met 80% verminder,” het Rich gesê.
Hy glo baie mense van die gebied het nuwe vaardighede aangeleer.
Rich en sy argiteksfirma is tans besig met ’n restourasie- en bouprojek in Axum in die noorde van Ethiopië.
- Beeld