Sentrums sluit nie, sê polisie
2010-11-23 22:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die polisie het gister ontken dat alle vuurwapen-registrasiesentrums in Gauteng teen 31 Maart 2011 gaan sluit.
Dít kom ondanks ’n brief wat aan bevelvoerders van vuurwapen-registrasiesentrums gestuur is rakende die stigting van ’n intervensiespan vir tweedehandsegoedere.
Dié brief is gedateer vir 21 Oktober vanjaar.
Luidens dié brief het lt.genl. Mzwandile Petros, Gautengse polisiehoof, opdrag gegee dat ’n gebou in Johannesburg geïdentifiseer word “om alle lede van vuurwapen-registrasie-sentrums van alle sentrums onder een dak te akkommodeer”.
“In wese sal alle vuurwapenregistrasie-sentrums gesluit word. Die provinsiale kommissaris het opdrag gegee dat elke polisiekantoor sy eie vuurwapen-beampte het.”
“Die provinsiale kantoor vir vuurwapens, drank en tweedehandse goedere sal alle (probleme rakende) vuurwapens, drank en tweedehandse goedere in die provinsie hanteer,” lui die brief.
Die brief sê verder daar is reeds ’n taakspan gestig wat probleme rakende drank hanteer. ’n Taakspan om probleme rakende tweedehandse goedere te hanteer, moet nog gestig word.
Kol. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, het gister ontken dat enige vuurwapenregistrasie-sentrums teen 31 Maart 2011 gesluit gaan word.
“’n Ondersoek is begin om die doeltreffendheid van vuurwapen-registrasiesentrums te bepaal,” het Malila gesê. “Daar is baie agterstallige vuurwapenlisensie-aansoeke en ons is besig om die rede daarvoor te bepaal.
“Afhangende van die ondersoek se uitslag, sal ’n besluit geneem word of die vuurwapenregistrasie-sentrums gesluit sal word of nie.”
Volg Beeld op Twitter en Facebook.