‘Sersant skiet en stap weg’
2011-04-28 22:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die polisieman het aangestap gekom, langs die vrou se motor gaan staan en ’n skoot afgetrek. Toe draai hy om en stap weer deur die hek na die aanklagkantoor.
Só het mnr. Sipho Baloyi (45), ’n motorwag wat saans voor die Kempton Park-polisiekantoor werk, gister die voorval beskryf waarin me. Jeanette Odendaal (45) dood is.
Sy is Dinsdagaand deur ’n 38-jarige polisiesersant voor die polisiekantoor doodgeskiet.
“Sy het so halfagt hier kom parkeer,” het hy gesê. “Ek het haar nog gehelp om mooi in te trek en toe gee sy my R12, maar sy het in die motor bly sit. Ek sien toe sy sit en praat op die telefoon.
“Die volgende oomblik sit sy weer die motor aan terwyl sy praat, die motor spring vorentoe en tref die polisiemotor se agterkant.”
Baloyi het gesê hy dink die vrou was dalk dronk.
“Ek probeer nog beduie, toe ry sy agteruit en tref ’n motor agter haar. Ek het geweet hier is moeilikheid, toe hardloop ek die aanklagkantoor binne en skreeu vir hulle dat die vrou hul motor gestamp het en hardloop weer uit.
“Die volgende oomblik kom die polisieman hier aangestap, gaan staan langs die motor – ek staan hier langs hom – en trek die skoot af. Ek het groot geskrik.”
Niks het daarna gebeur nie.
Niemand het ook kom kyk nie. Ná ’n rukkie is hy weer die aanklagkantoor binne en toe sê iemand: “Dit gaan nie meer help nie, die vrou is klaar dood.”
“Sy het agter die stuurwiel gesit en die skoot was hier bo in die skouer in. Ek glo nie sy het lank geleef nie,” het hy gesê.
Pres. Jacob Zuma het gister in Luthuli-huis in Johannesburg die voorval veroordeel, asook die dood van mnr. Andries Tatane in Ficksburg. Sulke optrede deur die polisie moenie geduld word nie.
“Die ANC is bekommerd oor die polisie-optrede in Ficksburg. Mense moenie bang wees om hul regte uit te oefen nie.”
Hy het bygevoeg dit is die verantwoordelikheid van die minister van polisie en die polisie self om die probleem op te los.
Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het Odendaal se ouers gister ontmoet. Hy het gesê die polisie-ondersoek moet eers afgehandel word voordat daar enigsins van polisie-wreedheid gepraat kan word.
Mnr. Dick Odendaal van Middelburg en sy vrou, Ella, het gistermiddag eers met Gauteng se polisiehoof, lt.genl. Mzwandile Petros, in die Kempton Park-polisiekantoor vergader voordat Cele hom by hulle aangesluit het.
Cele het daarna, in die Odendaals se teenwoordigheid, in antwoord op mediavrae oor of dié voorval op ’n tendens van uitermate geweld by die polisie sou dui, gesê die polisie kom uit die samelewing “en ons leef in ’n baie gespanne en gewelddadige samelewing”. Hy het weer daarop gewys dat polisielede binne die wet moet optree.
Die Odendaals het gisteroggend hul dogter se lyk gaan uitken.
’n Lykskouing sal na verwagting vandag gehou word.
Die sersant, wat eergister in hegtenis geneem is, sal na verwagting vandag in die landdroshof in Kempton Park verskyn.

Baloyi wys hoe ’n polisielid Odendaal geskiet het.
Foto: Wolfram Zwecker