Seun geskiet: Polisielid vas
2012-02-17 21:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die studentekonstabel wat glo Dinsdag ’n tiener van Soweto doodgeskiet het, is gister in hegtenis geneem en van moord aangekla.
Mnr. Francois Beukman, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD), het gesê die 41-jarige studentekonstabel verbonde aan die Dobsonville-polisiekantoor is gister omstreeks 13:40 gearresteer.
Hy verskyn Maandag in die Roodepoort-landdroshof.
Beukman en ander hooggeplaastes in die OKD het Thato Mokoka (16) se gesin gister besoek om hulle oor die vordering van die direktoraat se ondersoek in te lig.
’n Ondersoek is Woensdag gelas nadat Thato Dinsdag omstreeks 23:00 by sy ouma se huis in Bramfischerville, waar hy in ’n hut gebly het, doodgeskiet is.
Mnr. Moses Dlamini, OKD-woordvoerder, het gesê Thato is met ’n R5-geweer in die kop, rug en maag geskiet terwyl hy buite op die grond gelê het.
Die polisie is na die huis, want hulle het inligting gehad dat Thato in besit van ’n vuurwapen was en moontlik deel was van ’n bende wat skoolkinders in die gebied getreiter het.
Thato was in gr. 9 aan die Kelokitso Comprehensive School in Meadowlands.
“Ons het ’n versoek van die minister van polisie gekry om dié ondersoek ’n prioriteit te maak,” het Beukman gesê.
“Dit (Thato se dood) is ’n absolute tragedie. Die polisie moet inwoners behoorlik behandel.”
Die OKD het die saak die laaste paar dae deeglik ondersoek, maar die volle ondersoek sal eers oor ’n paar weke afgehandel wees, het hy gesê.
“Ons sal Maandag ’n aanbeveling oor die tug-aspek van die saak aan die provinsiale kommissaris doen.”
Adv. Siphokazi Moleshe, die OKD se Gautengse hoof, het gesê hulle probeer nog vasstel of die polisie ’n lasbrief gehad het om Thato se hut te deursoek.
Sy kon nie sê of die studentekonstabel daarop geregtig was om ’n R5-geweer te dra nie.
“Ons kan nie die presiese besonderhede van die ondersoek bekend maak nie.”
Me. Nompumelelo Mokoka, familiewoordvoerder, het gesê hulle is steeds getraumatiseer deur Thato se dood, maar het die studentekonstabel se inhegtenisneming verwelkom.
Sy wou haar nie uitlaat oor bewerings dat Thato ’n bendelid was nie.
’n Gedenkdiens word môreoggend in sy ouma se huis gehou, waarna hy in die Roodepoort-begraafplaas begrawe sal word.

Me. Sybil Mokoka wys waar haar kleinseun, Thato, doodgeskiet is. Foto's: Mary-Ann Palmer

Mnr. Francois Beukman (middel), uitvoerende hoof van die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD), en ander OKD-verteenwoordigers verlaat Thato Mokoka se ouma se huis. Hy het gister aan die familie gesê die studentekonstabel wat Thato glo doodgeskiet het, is in hegtenis geneem.