Seun skiet rowers kis in aanval by ouers se huis
2010-05-15 00:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die seun van ’n egpaar wat deur rowers van die bank na hul huis agtervolg is, het uit die huis gestorm en op die aanvallers geskiet – ’n uur later is die verdagtes in ’n motor gevind; een dood, een gewond en een erg geskok.
Volgens brig. Sheryl Venter, stasiebevelvoerder van die Benoni-polisiekantoor, het ’n egpaar van in hul 50’s gisteroggend by die East Rand Mall in Boksburg gaan geld trek.
Die rowers het hulle vermoedelik dopgehou of inligting ontvang van binne die bank oor hoeveel geld die egpaar getrek het en hulle na hul huis in Brentwood, Benoni, agtervolg.
Die rowers het die egpaar tuis met vuurwapens aangehou, maar voordat hulle die geld kon buit het die egpaar se seun, wat in die huis was, die rooftog gesien en met sy vuurwapen uitgehardloop.
Hy het op die rowers geskiet en hulle het weggejaag.
Volgens Venter het die polisie kort daarna van die aanval gehoor en na die verdagtes en hul motor begin soek.
Die motor is sowat ’n uur ná die aanval in Brentwood in die ondergrondse parkeerterrein van die Lakeside Mall in Benoni opgespoor.
Een van die rowers is dood in die motor aangetref, nog een is ernstig gewond en die derde een is deur die polisie in hegtenis geneem.
Venter het mense gewaarsku om op hul hoede te wees wanneer hulle kontant trek.