Skort alles buitemuurs by skole vanjaar op, vra minister
2010-09-09 22:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het ’n beroep op provinsiale LUR’e gedoen om weens die chaos wat die staatsdiensstaking teweeggebring het alle buitemuurse aktiwiteite by skole tot die einde van die jaar op te skort.
Die jaarlikse nasionale assessering van gr. 3-, gr. 6- en gr. 9-leerlinge wat in November sou plaasvind, word tot Februarie volgende jaar uitgestel, het sy in ’n verklaring gesê.
Dié besluit is volgens Motshekga geneem omdat die staking die onderwysstelsel onder enorme druk geplaas het.
“Ek is oortuig daarvan dat dit die stelsel tyd sal gee om alle leerlinge vir die toetse voor te berei.”
Haar departement sal voorbeelde van geletterdheids- en gesyferdheidstoetse versprei om die klem op die belangrikheid daarvan te plaas.
Sy het dringend versoek dat alle skole geletterdheid en gesyferdheid hul hooffokus maak en bykomende programme daarin aanbied.
Die Raad van Onderwysministers (ROM), wat uit die minister en die LUR’e bestaan, het verskeie opsies oorweeg om te vergoed vir die tyd wat weens die staking verlore gegaan het.
Dit sluit in die verlenging van die skooldag, klasse in naweke en die gebruik van die September-vakansie.
“Al die opsies sal versigtig oorweeg word en die departement sal binnekort ’n aankondiging daaroor doen.”
Wat vanjaar se matrikulante betref, het sy gesê hul selfvertroue moet opgebou en hul hoop herstel word.
“Ek vra alle Suid-Afrikaners om betrokke te raak soos wat hulle Bafana Bafana tydens WB 2010 ondersteun het.”
Provinsies sal met hul spesiale programme voortgaan om gr. 12’s te help, terwyl vennootskappe met die SAUK sal voortgaan, het die minister gesê.
Sy het ook ’n beroep op matrikulante gedoen om elke geleentheid te gebruik om hul volle potensiaal te verwesenlik.
Haar departement sal regstreeks bystand lewer in skole waar daar deurlopend onderprestasie is.
“Dit sal gepaardgaan met goeie leermateriaal en leerlinge sal leiding van kundiges kry.”
Motshekga het gesê daar is 45 dae oor voordat die eindeksamen begin en leerlinge moet ook self verantwoordelikheid vir hersiening aanvaar.
“Die nasionale staking deur onderwysers was ’n groot slag vir openbare onderwys en het veral ’n vernietigende uitwerking op die onderrig van arm, landelike en swart leerlinge gehad.”