Skrywer Bouwer sterf ná koma
2010-10-07 23:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad. – Alba Bouwer (90), die doyenne van Afrikaanse jeugliteratuur, is oorlede.
Bouwer het Dinsdagaand in die aftree-oord Helderberg Village in Somerset-Wes in ’n koma verval en gesterf.
Sy het jare lank Alzheimer se siekte gehad.
“Ek is dankbaar dat sy stil weg is, want nóú kan ek haar begin onthou,” het die digter Lina Spies, ’n vriendin, gister gesê.
Volgens haar stiefseun, mnr. Jan Hofmeyr, is die eerste gedagtes wat by hom opkom wanneer hy aan haar dink haar sin vir netheid, eenvoud en haar betroubaarheid.
“Dit het in alles wat sy gedoen het na vore gekom. In haar huis, haar voorkoms, haar gesprekke, haar geskrifte, haar voordragte, haar verhouding met mense, selfs haar motor – jaartal ten spyt.”
Hofmeyr het vertel hoe sy stiefma ’n paar jaar gelede saam met sy vrou Riversdal toe gery het om vir haar ’n graf te bespreek.
“Ek wil eendag netjies uitstap, julle moenie sukkel nie,” het Bouwer toe gesê.
Bouwer se kinderboeke, veral Stories van Rivierplaas en Stories van Bergplaas, word wyd as geliefde bydraes tot die Afrikaanse letterkunde beskou.
Sy het die Scheepersprys vir jeugliteratuur twee keer met dié boeke gewen en het die C.P. Hoogenhoutprys vir die beste kinderboek drie keer ontvang.
Sy laat ses stiefkinders, 17 kleinkinders en 6 agterkleinkinders agter.