Skuldig: ‘Skiet ons ma of pa eerste?’
2012-02-06 22:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Twee Mosambiekse huisrowers wat by twee klein meisietjies wou weet of hul ma of pa eerste doodgeskiet moet word, is gister in die Krugersdorp-streekhof skuldig bevind.
Eric Nkuna en Fortunato Simbine, wat verskeie huishoudings aan die Wes-Rand in 2009 geterroriseer het, is skuldig bevind op vier aanklagte van inbraak en huisroof met verswarende omstandighede.
Landdros Keith Page het ook bevind Nkuna het mnr. Juan van Eeden (28) op 10 Oktober 2009 in Noordheuwel, Krugersdorp, vermoor.
Volgens Page is daar egter onvoldoende bewyse om Simbine ook met dié moord te verbind.
Nkuna en Simbine sal later vandeesweek gevonnis word.
Die twee het in 2009 veral komplekse in die Noordheuwel-omgewing geteiken en hulle toegespits op luukse items soos plasma-TV-stelle, rekenaars en juweliersware.
Volgens me. Micky Thesner, staatsaanklaer, het hulle die inwoners dikwels fisiek en sielkundig gemartel.
Nkuna en Simbine het me. Marie Cloete en haar twee jong dogters (destyds onderskeidelik twee en sewe jaar oud), asook mnr. Harry Kok op 25 Februarie 2009 in hul kompleks in Roodekrans, Roodepoort, oorval en ure lank aangehou.
Cloete het later getuig die mans het onder meer ’n daggazol in hul huis gerook en die kinders gevra watter een van hul ouers eerste doodgeskiet moet word.
Hulle het vermoedelik aangeneem Kok is die kinders se pa.
Nkuna het Cloete ook in ’n stadium na haar jongste dogter se kamer geneem en gedreig om haar daar te verkrag. Die rowers het later in haar Ford Tracer weggery.
Van Eeden het homself vermoedelik die aand van 10 Oktober 2009 in die hoofslaapkamer probeer toesluit nadat Nkuna omstreeks 02:00 by sy kompleks ingebreek het.
Nkuna het egter die deur afgebreek en Van Eeden koelbloedig in die nek geskiet.
Nkuna en Simbine het weer op 22 Oktober 2009 in Noordheuwel toegeslaan en mnr. Johan Potgieter oorval nadat hulle sy staffordshire-terriër vergiftig het.
Potgieter kon ’n noodknoppie druk toe die rowers by sy slaapkamer inbars. In hul haas om te vlug, het hulle ’n .45-kaliber-pistool verloor. Simbine het ook ’n vingerafdruk agtergelaat.
Die vuurwapen is later positief verbind met die patroon wat Van Eeden gedood het.
Op 23 Oktober het die rowers me. Johanna Paulina Erasmus by haar huis in Noordheuwel oorval, gewurg en met ’n bobbejaansleutel bewusteloos geslaan voordat hulle in haar Mercedes-Benz 230 Kompressor gevlug het.
Erasmus se opsporingsmaatskappy en die Wes-Randse blitspatrollie het die voertuig die volgende dag opgespoor en albei mans is gearresteer.