Skuldig nadat man in kroeggeveg sterf
2012-02-22 13:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Marzanne van den Berg en Jinine Botha
Een man is vry en ’n ander skuldig
bevind aan strafbare manslag en aanranding ná ’n kroeggeveg wat tot ’n man se
dood gelei het.
Mnre. Christopher Nicola (30) en
Carl Andrew Saunders (20) het in die hooggeregshof in Johannesburg elk
tereggestaan op een aanklag van moord en twee van poging tot moord.
Saunders was glo op 22?November 2009
in die Ballbreakers Pool Lounge in Fourways, Johannesburg, in ’n onderonsie met
’n man betrokke. Hy is uitgesmyt en het Nicola gebel om te kom help.
Hulle het later buite Ballbreakers
weer vasgesit met vriende van dieselfde man.
Mnre. Robert en Gordon Taljaard en
Richard Millett-Clay het meswonde opgedoen in dié onderonsie en Millett-Clay is
later oorlede.
Regter Haseena Mayat het Nicola
Vrydag onskuldig bevind op al drie aanklagte, omdat daar nie bewys is hy het ’n
mes gebruik nie. Volgens vroeëre getuienis deur 'n dokter wat die drie mans die
aand van die voorval ondersoek het, is al die wonde deur dieselfde mes
veroorsaak. Saunders het vroeër erken hy het 'n mes by die ander mans afgeneem en homself
daarmee verdedig.
Mayat het Saunders skuldig bevind
aan strafbare manslag pleks van moord, aangesien hy volgens haar die oorledene
nie opsetlik doodgemaak het nie. Hy is ook skuldig bevind aan twee aanklagte
van aanranding pleks van poging tot moord, omdat die Taljaards se wonde slegs
oppervlakkig was.
Hy sal in April gevonnis word.