Son brand man erg wyl hy hengel
2012-01-23 22:32
Welkom. – Hy was in die hel, sê ’n plaaslike man wat erg deur die son langs die viswater gebrand is.
Mnr. André du Toit (52) het tot op sy tong en in sy mond en keel brandwonde opgedoen.
“Dokters sê my vel is gekook, dit is asof ek op die kole gebraai is.”
Hy is môre reeds ’n week in die hospitaal en sy vel word daagliks in ’n ysbad geskraap om infeksie te keer. Swart kolle slaan op sy vel uit en groot blase bars oral oop.
Volgens sy dokter het hy derdegraadse brandwonde opgedoen.
Du Toit en sy vrou is verlede naweek na hul dogter, Chrissie, op Rustenburg. Hy en sy skoonseun, mnr. Fred Minnie, het by die Buffelspoortdam gaan hengel.
Hulle het ’n tent-afdak onder ’n boom teenaan die water opgeslaan en hy het heeltyd ’n breërandhoed gedra.
“Ek was versigtig, juis omdat ek gou brand. Die meeste brandwonde is van die ultravioletstrale wat van die water af weerkaats het.”
Hy het die Vrydagmiddag begin olik voel en is terug huis toe. Sy vel was effe rooi, maar nie so dat hulle daaroor bekommerd was nie.
Daardie nag het hy begin koorsig word, maar hulle is steeds die volgende dag wildtuin toe. Hy was heeltyd in ’n motor met lugversorging.
Daardie nag het sy vel begin blase maak en sy koors het gestyg. Hy is op aanbeveling toegepak met handdoeke wat in die vrieskas koud gemaak is.
Maandag het sy vel swart kolle begin uitslaan en sy vrou, Christine, is met hom terug na Welkom.
“Hy het heeltyd op sy knieë op die vloer by die passasierskant van die motor gesit en huil van pyn.”
Hy is eers Woensdag in die Bongani-hospitaal opgeneem toe die blase rou wonde gevorm het. Weens die sere in sy mond kan hy al dae lank nie eet nie. Omdat daar geen duidelike are beskikbaar is nie, kan hy ook nie aarvoeding deur ’n drup kry nie. Hy kry pille, pynmedikasie en kan vloeistof deur ’n strooitjie inneem.
Mnr. Du Toit sê: “Waarsku asseblief die mense teen hierdie son. Al dink jy nie so nie, dit is lewensgevaarlik, selfs al voel jy jy is beskerm daarteen.”
