Sonstorm is die grootste sedert 2005
2012-01-24 21:43
Kaapstad. – Die jongste sonstorm wat mense gister die asem laat ophou het vir moontlike negatiewe elektromagnetiese gevolge is dalk net die begin van ’n baie besige sonsiklus vanjaar.
Dié sonstorm, of koronale massa-uitwerping, is Maandag deur Nasa, die Amerikaanse ruimte-agentskap, opgemerk.
Een van die gevolge van dié storm was dat gelaaide partikels van die son die aarde gister 16:18 (Suid-Afrikaanse tyd) teen snelhede van tussen 1 400 km/sek tot 2 200 km/sek getref het.
Dit is die grootste sonstorm wat sedert 2005 opgemerk is, volgens Nasa.
Mnr. Jasper Snyman, lektor in fisika aan die Universiteit van Johannesburg, het gesê mense in Suid-Afrika hoef nie paniekerig te raak oor storms soos dié nie.
“Dit is beslis ’n merkwaardige storm, maar dit beteken nie die einde van die wêreld nie.”
Sonaktiwiteit kom in siklusse van 11 jaar voor en mense kan verwag dat die son vanjaar aktiewer sal wees, het Snyman gesê.
“Dié soort storms kan in uiterse gevalle Wi-Fi-toestelle, selfoonnetwerke, satelliete en GPS-toestelle beïnvloed, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat daar enige versteurings sal wees.”
Volgens me. Vaneshree Maharaj, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (Sansa), is geen vliegtuie gister in die Suid-Afrikaanse lugruim deur die sonstorm beïnvloed nie.
Die storm het teen 15:00 die meeste van sy verwagte impak begin verloor.
Gister se sonstorm het wel gesorg dat die noorderlig-skouspel vir die eerste keer in ’n dekade in plekke soos Skotland, Ierland en Engeland sigbaar was.
Die noorderlig is gewoonlik net sigbaar in Kanada, Alaska en Siberië.
Bronne: Nasa; The Telegraph.