Soos ’n Bybelse Dawid takel vrou 4 rowers
2010-08-24 22:19
“Kill me?”
Met dié woorde het mev. Melanie Giezing (61) van Pongola in die noorde van KwaZulu-Natal soos ’n Bybelse Dawid met net ’n handsak as “slingervel”, kaal hande en geloof onder gewapende rowers ingeklim en hulle laat les opsê.
Giezing het twee van die booswigte vrou alleen gepak nadat hulle haar man, Hennie (65), vroeër geskop en geslaan het.
Die vier mans het verlede Maandag omstreeks 21:45 op die Giezings toegeslaan kort nadat hulle by die huis gekom het.
Mev. Giezing het pas die sleutel in die veiligheidshek gesteek toe ’n man met ’n vuurwapen na haar geloop kom en nog drie haar man met messe uit die motorhuis bring.
“Hulle het geld gesoek en toe my man sê ons het nie geld nie, het die een hom met die rollie geslaan.
Hulle het hom geskop en geslaan terwyl hy op die grond gelê het.
“Ek het net begin bid en die Here gevra om ons te beskerm en te bewaar en te verhoed dat hulle ons leed aandoen.”
Toe die man met die pistool vir haar sê “I’ll kill you, I’ll shoot you”, het sy hom met haar handsak gepak.
Sy makkers het haar van agter begin slaan.
Volgens Giezing het die mans haar geslaan terwyl sy hande-viervoet op die grond was.
Nadat sy weer regop kon kom en een van die mans haar handsak gegryp het op soek na geld, het sy hom met net haar kaal hande bygekom voordat sy makkers haar weer aangeval het.
Een het haar met ’n mes aan die binnekant van haar linkerbobeen gesteek.
“Die Here was daai aand by ons. Dit is net ’n wonderwerk en met sy genade dat ons lewe. Met God aan ons kant, wie kan teen ons wees?” het sy gesê.
Nog ’n wonderwerk het volgens haar gebeur toe ’n deur van die huis wat gesluit was, oopgeswaai het en een van rowers wat die veiligheidshek wou oopsluit van sy voete af geslaan het.
Die egpaar het vinnig gespring, by die huis ingehardloop en die veiligheidshek toegedruk.
Hulle kon die deur ook toemaak en hulp ontbied.
Kol. Jay Naicker, ’n polisiewoordvoerder, het die aanval bevestig.

Mev. Melanie Giezing, wat twee booswigte laat les opsê het deur hulle eers met haar handsak en toe met haar kaal hande te takel.

Mev. Giezing se bloed ná die geveg met gewapende rowers.