Stadsbaas ‘knoei’
2012-02-07 22:27
Durban. – Dié stad se vorige burgemeester en stadsbestuurder is onder die talle raadslede en topamptenare wie se name in ’n verdoemende verslag oor beweerde wanadministrasie, bedrog en korrupsie van meer as R2 miljard genoem word.
Die eThekwini-metroraad het gister 21 dae gekry om ’n plan op te stel oor hoe hy dié beweerde vergrype gaan takel wat minstens die afgelope agt jaar plaasgevind het.
Terwyl dié stappe binne drie maande afgehandel moet word, was die lot van mnr. Obed Mlaba, vorige burgemeester, en dr. Mike Sutcliffe, voormalige stadsbestuurder, gister nog onseker.
Die raad het die bevindings van die ondersoek deur die Manase-ouditeursfirma gister aanvaar nadat me. Nomusa Dube, KwaZulu-Natalse LUR vir samewerkende regering, hulle agter geslote deure op hoogte daarvan gebring het.
Die LUR het die Manase-ondersoek in 2011 gelas nadat die ouditeur-generaal én ’n ondersoek wat die metroraad self gelas het, wydlopende ongerymdhede uitgewys het.
In die Manase-ondersoek is daar volgens Dube bevind dat Mlaba wel verbonde was aan een van drie maatskappye wat ’n belang uitgespreek het in ’n R3 miljoen-tender om by een van die stad se stortingsterreine krag uit afval op te wek.
Daar is so met dié proses gekonkel dat dit van nuuts af begin moet word, het Dube gesê.
In die ondersoekverslag is aanbeveel dat ondersoek ingestel word na die nalatigheid of samespanning van amptenare met een van die maatskappye.
Op sy beurt het Sutcliffe na bewering onder meer korrupsiewetgewing oortree omdat hy luidens die verslag nie ongerymdhede betyds onder sy politieke meerderes se aandag gebring en bedrog en korrupsie by die polisie aangemeld het nie.
Beweerde misdade wat in ’n vorige ondersoek aan die lig gekom het, is glo eers tydens die Manase-ondersoek by die polisie aangemeld.
Sutcliffe het die munisipaliteit se diens begin vanjaar verlaat nadat sy kontrak verstryk het.
Volgens mnr. Tex Collins, DA-koukusleier, wil dit lyk of strafregtelike klagte teen Sutcliffe aanhangig gemaak sal moet word.
Sutcliffe het nie gister op boodskappe om kommentaar gereageer nie.
Collins het gesê die verslag wys dat die stad die afgelope tien jaar deur ’n “kliek van skynbaar korrupte mense” bestuur is.
Ondanks die ongerymdhede is Durban volgens Dube steeds een van die bes bestuurde stede in Afrika.
Belangebotsings
Die Manase-verslag lig die volgende uit:
Instrukteurs het 30 voornemende wetstoepassers van die metropolisie aangesê om vals rybewyse te koop.
Minstens 14 metropolisiebeamptes besit taxi’s.
Tien raadslede en 161 amptenare het belange in maatskappye wat sake met die munisipaliteit doen.
Die omseiling van tenderregulasies die afgelope drie jaar beloop R2,1 miljard.
In sommige gevalle is behuisingskontrakte toegeken voordat tenderdokumente voltooi is.
Die omseiling van tenderregulasies met die bou van 550 laekoste-huise in die Burbreeze-projek het meegebring dat die koste van R18 miljoen tot R57 miljoen toegeneem het weens ’n gebrekkige lewensvatbaarheidstudie en omdat spertye nie gehaal is nie. Boonop was die kontrakteur nie as bouer geregistreer nie en is “skokkende en onaanvaarbare, gevaarlike en substandaard-huise” opgerig.
By Hammond’s Farm het ’n behuisingsprojek van R68 miljoen om soort-gelyke redes uiteindelik R351 miljoen gekos.