Straler vlieg sáám met Zuma-vliegtuig
2012-01-18 22:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Pres. Jacob Zuma se BBP-straler is pas versien, maar uit vrees vir ’n fout word dit nou klaarblyklik op lang vlugte deur ’n ander straler vergesel.
Toe Zuma onlangs New York toe was om ’n sitting van die Verenigde Nasies (VN) by te woon, is ’n Bombardier Global Express XRS agter-na, het Beeld van ingeligtes verneem.
Die koste van dié vlug van sowat 34 uur word deur vlieëniers op sowat R2,6 miljoen geraam.
Sowel dié vliegtuig as Zuma s’n het tydens die vlug die presidentsroepsein gebruik, het www.defenceweb.co.za berig.
Mnr. Siphiwe Dlamini, weermagwoordvoerder, het aan James-Brent Styan gesê hy weet nie van die skadu-vliegtuig nie.
Mnr. Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van die ministerie van verdediging, het vroeër gesê die BBP-vliegtuie en die aanskaffing van nuwe vliegtuie is tans die onderwerp van ’n hofsaak. Hy kan dus nie breedvoerig daaroor uitwei nie.
Die besluit om ’n skadu-vliegtuig op belangrike vlugte saam te stuur, spruit uit ’n voorval verlede jaar toe adj.pres. Kgalema Motlanthe op die nippertjie ’n kommersiële vlug na Finland moes haal nadat ’n huurvliegtuig probleme opgedoen het.
Huurvliegtuie is vir hom en vir Zuma gebruik terwyl Zuma se Boeing-sakestraler, Inkwazi, in Switserland was vir versiening.
Inkwazi was laat in Desember terug in Suid-Afrika, betyds om Zuma New York toe te neem.
Die tameletjie oor die verskaffing van BBP-vlugte en die aanskaffing van bykomende vliegtuie het verlede jaar tot die bedanking van me. Mpumi Mpofu as sekretaris van verdediging gelei.
Dit het gebeur nadat die R800 miljoen-kontrak vir die huur van twee stralers toegeken is aan AdoAir, ’n plaaslike lugvaartmaatskappy waarvan die moedermaatskappy in Nigerië geregistreer is.
Dié kontrak is tans die onderwerp van ’n hofsaak nadat die maatskappy ’n hofsaak aanhangig gemaak het omdat die departement die huurtransaksie glo op die lange baan geplaas het.
Luidens stukke voor die hof sê die departement van verdediging die oorspronklike transaksie met AdoAir het gebreke gehad wat selfs deur wetstoepassingsagentskappe verder gevoer kan word.
Uitspraak in die saak sal eers later gelewer word.
Die kwessie van probleme met BBP-vlugte het daartoe gelei dat die lugmag nou ’n aparte kantoor ingerig het wat net dié vlugte hanteer.
’n Huurvliegtuig met Motlanthe aan boord moes vroeër om tegniese redes ’n noodlanding in die Demokratiese Republiek van die Kongo uitvoer.
Oudpres. Thabo Mbeki was ook al weens ’n tegniese probleem in Soedan gestrand.
Mnr. David Maynier van die DA het gister gesê hy gaan ernstige vrae oor die betroubaarheid van Inkwazi en die bedryf van BBP-vlugte vra.
Hy wil ook weet wie aan boord van die tweede vliegtuig was en wat die koste van dié vlug was.