Student verdrink by NWU
2012-01-22 21:16
Potchefstroom. – ’n Eerstejaar-ingenieurstudent se lyk is eergister gevind sowat twee uur nadat hy blykbaar ongemerk tydens ’n vrugtefees by die Noordwes-Universiteit (NWU) verdrink het.
Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die NWU-Pukke, het gistermiddag gesê die universiteitsgemeenskap is diep geskok.
Die student se naam is teen druktyd gister nog nie bekend gemaak nie omdat sy familie sy ma eers gisteraand oor sy dood sou inlig.
Sowat twee uur nadat die eerstejaar verdrink het, het senior studente sy lyk toevallig in die swembad opgemerk, het Van Schalkwyk gesê.
Hulle het die kampus se beskermingsdienste laat kom, waarna die polisie ontbied is.
Die vrugtefees is ’n jaarlikse pret-geleentheid waar seniors en eerstejaars saam waatlemoen eet en mekaar daarmee op die Fanie du Toit-sportterrein smeer.
Volgens Van Schalkwyk het die koshuise eergister een vir een ’n beurt gekry om hulself in die Olimpiese grootte-swembad op die sportterrein af te spoel.
Ratau se 77 inwoners was 23ste aan die beurt.
Hoewel dit onseker is of die student kon swem, is alle studente wat nie kon of wou swem nie volgens Van Schalkwyk gevra om nie in die swembad te spring nie.
Mnr. Juan Chapman, ’n inwoner van Ratau, het gister vertel die oorlede student het by sy maats in rye langs die swembad ingehaak.
“Hy was vrolik en het die vrugtefees baie geniet. Die primarius het gesê die eerstejaars wat nie kan swem nie moet by die vlak kant inspring.
“Ons het ‘een vir almal en almal vir een’ geskree en ingespring. Ons moes dadelik weer uit. Die water was melkerig, ’n mens kon nie tot onder sien nie.”
Volgens Chapman is hulle terug koshuis toe en hulle het eers ná aandete besef een student is weg.
Volgens Van Schalkwyk is nog vier koshuise ná Ratau deur die swembad.
Die seniors het omstreeks 18:30 “iets” in die water gesien en hulp ontbied.
Meer as 3 000 studente neem aan die vrugtefees deel.
“Dis baie goed georganiseerd en alle wette en reëls is nagekom,” het Van Schalkwyk gesê.
“Daar was beheerbeamptes teenwoordig en ER24-personeel op bystand.”
Berading word sedert eergisteraand aan die erg getraumatiseerde inwoners van Ratau verskaf.
“Daar was trane, ongeloof en skok,” het mnr. Theo Foutie, koshuisvader, gesê.
Die NWU sal die oorlede student se familie met huisvesting en begrafnisreëlings bystaan.
Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek.

Lt.kol. Gideon du Toit (regs) en lt.kol. Nick Rautenbach, albei polisieduikers van Potchefstroom, pak gister hul duiktoerusting by die NWU-Pukke se swembad op nadat hulle die bodem gefynkam het vir bewysstukke wat moontlik lig kan werp op die verdrinking van ’n student Saterdag in dié swembad. Foto: Susan Cilliers