Swaar straf ná hond ly
2012-02-09 23:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Krugersdorp-streekhof het gister een van die swaarste vonnisse nóg ingevolge die Dierebeskermingswet opgelê aan ’n vrou wat haar verminkte Jack Russell vir minstens langer as 24 uur laat ly het sonder om vir hom behandeling te kry.
Me. Cora Bailey, stigter van die diereregtegroep Community Led Animal Welfare (Claw), het die hondjie, Jack, in 2009 uit me. Antoinette van Wyk (34) se oprit gered nadat ’n buurvrou haar om hulp geskakel het.
Jack se been was volgens Bailey uit sy heuppotjie geskeur nadat hy vroeër vermoedelik deur ’n motor raak gery is. Hy kon volgens ’n veearts selfs al ’n maand lank gely het.
Die wond, wat deurtrek was van maaiers, was so erg dat die dier se heupbeen afgeval het.
Bailey beweer Van Wyk het op dié dag doodluiters in haar motor geklim en gery ten spyte daarvan dat die hondjie duidelik in “ontsaglike pyn” was.
Talle Johannesburgse veeartse het dae lank geworstel om Jack se lewe te red, maar daar is uiteindelik besluit om hom van kant te maak.
Streeklanddros J. Nortjé het Van Wyk tot een?jaar tronkstraf én ’n boete van R5 000 gevonnis.
Van Wyk se omstandighede as die enkelma van drie jong kinders het Nortjé die tronkstraf vir vyf jaar laat opskort. Sy moet egter steeds die boete afbetaal en hy het haar ’n verdere vonnis van 12 maande korrektiewe toesig opgelê, waartydens sy naweke gemeenskapsdiens moet verrig.
Van Wyk sal haar ook aan terapie moet onderwerp. Sy mag nie diere aanhou nie.
Mnr. Martin van Vuuren, Van Wyk se regsadviseur, het ná die verrigtinge gesê sy kliënt het ten tyde van Jack se dood baie persoonlike probleme ondervind.
Volgens hom het Van Wyk in 2009 haar werk verloor, aan stres gely, ’n maagseer gekry, pynstillers gebruik en is gevolglik die dag nadat Bailey Jack probeer red het in die Krugersdorp-hospitaal se waakeenheid opgeneem.