Tiener sterf; ‘sy drank gedokter’
2012-02-24 22:06
’NTienerseun is dood en ’n jong pa is in ’n ernstige toestand in die hospitaal nadat hul drankies glo in twee afsonderlike voorvalle gedokter is.
Wesley Strydom (16) van Roodepoort, ’n gr. 11-leerling aan die Lantern-skool, is in die vroeë oggendure van 29 Januarie dood nadat hy die vorige aand saam met vriende gekuier het.
Mnr. Travis van Niekerk (21) van Krugersdorp is in die waakeenheid van die Arwyp- mediese sentrum in Kempton Park.
Hy het Saterdagaand begin sleg voel nadat hy en ’n vriend ’n paar drankies by ’n kuierplek in Boksburg gedrink het.
Mnr. Johan en me. Wendy Strydom, Wesley se ouers, het gister aan Beeld vertel hy het die dag voor sy dood, ’n Saterdag, by ’n vriend gaan oorslaap.
Sondagoggend 02:08 het die vriend se ma me. Strydom gebel en gesê daar is fout met Wesley.
“Toe ek daar kom, was die ambulans reeds daar. Die paramedics het my voorgekeer en gesê: ‘Sorry, hy is klaar weg, ons het als gedoen wat ons kon.’
Sy wou dit nie glo nie en het haar man gebel om daarheen te kom.
Hulle het uitgevind Wesley was die vorige aand saam met sy vriende by ’n partytjie by die Ringbalklub in Roodepoort.
Volgens mnr. Strydom wys Wesley se selfoonstate hy het die vriend se ouer broer 21:30 gebel om hom te kom haal. Hy het glo toe al begin siek voel en opgooi.
“Hoekom het hulle ons nie toe gebel en gesê ons kind is siek nie?”
Die oorsaak van sy dood is nog nie bevestig nie, maar sy ouers vermoed sy drankie is by die partytjie gedokter.
“Party mense sê hy’t koeldrank gedrink, party sê hy’t brandewyn gedrink, party bier. Jy hoor verskillende stories,” het mnr. Strydom gesê.
Wesley het veral in rugby uitgeblink. Hy het klubrugby vir Diggers gespeel en volgens sy ouers ook al saam met die Bulle geoefen. Hy sou eergister 17 geword het.
“Ons het sewe jaar vir Wesley gewag en agt jaar vir ons dogter, Bronwyn (9),” het me. Strydom gesê.
“Hy was ons enigste seun. Ouers moenie hul kinders begrawe nie. Gister (eergister) was ’n swaar dag. Die familie het bymekaargekom en vir hom ballonne opgestuur.”
Die polisie ondersoek albei sake.