Transnet betaal self hiérvoor
2012-02-10 22:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
James-Brent Styan en Francois Williams
Kaapstad. – Die infrastruktuurprogram ter waarde van R300 miljard wat pres. Jacob Zuma eergisteraand in sy staatsrede aangekondig het, gaan die belastingbetalers niks kos nie.
Transnet sal die projekte, wat uitbreidings aan spoorlyne en hawens, asook verskeie nuwe spoorprojekte insluit, self finansier.
Transnet sou in die volgende vyf jaar nagenoeg R110 miljard aan verskeie infrastruktuur-uitbreidingsprojekte bestee het, maar sy kapitaalbegroting is nou tot R300 miljard in die volgende sewe jaar vergroot.
Kenners is dit eens dat die projekte ’n geweldige hupstoot vir Suid-Afrika se mynboubedryf sal wees. Dit het die laaste paar jaar min gegroei omdat myne hul produkte nie by die hawens kon kry nie.
Transnet se balansstaat is nou sterk genoeg dat hy die geld in die kapitaalmark kan leen en dit kan terugbetaal uit die geld wat die gebruikers vir die dienste sal betaal.
Mnr. Brian Molefe, Transnet se uitvoerende hoof, het Donderdagaand van oor tot oor geglimlag.
“Die geld is daar,” het hy gesê.
Die plan maak voorsiening vir spoorlyne wat die Waterberg- en Steelpoort-omgewing se myne met die hawens verbind.
Die spoorlyn tussen Johannesburg en Durban, asook dié tussen Sishen en Saldanha, gaan opgeknap word.
Daarby gaan ’n splinternuwe spoorlyn vir mangaanuitvoer van die Noord-Kaap na Coega in die Oos-Kaap gebou word.
Molefe het gesê die doel van die uitbreidings is onder meer om die vervoer van steenkool van die paaie af te kry en na treine te skuif.
Die plan is ook om nuwe lokomotiewe plaaslik te vervaardig.
Volgens Molefe sal tot ’n derde van die begroting (R100 miljard) aan Suid-Afrikaanse hawens bestee word.
“Ons gaan nuwe infrastruktuur bou, nuwe hyskrane en ander toerusting koop om ons onderneming doeltreffender te maak,” het hy gesê.