Trok bo-oor vrou
2012-01-24 21:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Durban. – “Hardloop!”
Dít was die laaste uitroep van mev. Alice Jogessar (69) aan ’n vriendin voordat ’n weghol-vragmotor haar in die parkeerterrein van ’n Pietermaritzburgse winkelsentrum getref en sy grusaam gesterf het.
Die 8 t-vragmotor, wat strykplanke vervoer het, het eergister omstreeks 21:30 op die N3-hoofweg buite beheer geraak en deur ’n heining om die Liberty Midlands Mall gebars.
Dit het sowat 200 m verder deur ’n buitemuur van die sentrum gebars en tot binne die Absa-tak in die sentrum geploeg.
In die proses het dit ’n spoor van verwoesting oor die parkeerterrein gelaat.
Die vragmotor het vyf voertuie op ’n streep getref wat buite die sentrum gestaan het terwyl die laaste restaurantklante besig was om huis toe te gaan.
Jogessar het die aand saam met ’n vriendin wat by haar gekuier het, me. Reem Mohamed (29) van Egipte, by ’n gesinsrestaurant in die sentrum gaan eet.
Die ongeluk het gebeur pas nadat sy agter die stuur van ’n rooi Mazda geklim wat net ’n entjie van die sentrum se ingang gestaan het, het Mohamed gesê.
“Daar was ’n harde knal wat vir my soos donderweer geklink het omdat dit gereën het.
“Alice het geskreeu ek moet hardloop, maar ek het nie verstaan wat sy bedoel nie.”
Jogessar het buite die motor aan die passasierskant gestaan.
Die volgende oomblik het die vragmotor die Mazda getref en dit in die rondte laat tol.
Die volgende wat Mohamed kan onthou, is dat sy die vragmotor kon sien uitsteek by die gat in die muur waar dit by die bank ingeploeg het.
’n Driekwartier lank het Mohamed na Jogessar in die donker gesoek voordat sy uitgevind het dat sy deur die vragmotor saamgesleep is en grusaam gesterf het.
Paramedici het Mohamed op die toneel behandel.
Die bestuurder van die vragmotor en sy kollega is in die ongeluk beseer en na ’n hospitaal gebring.
Die ingang van die sentrum en die Absa-tak was gister gesluit terwyl opruimingswerk voortgesit is.
’n Motoris het aan The Witness gesê die vragmotor het van Howick af heen en weer oor die N3 beweeg, voertuie verbygesteek en op die geel streep gery voordat dit die pad verlaat het.
Volgens lt. Joey Jeevan, polisiewoordvoerder, is aanklagte van strafbare manslag en roekelose of nalatige bestuur aanhangig gemaak en gaan die vragmotor deeglik ondersoek word om uit te vind wat die ongeluk veroorsaak het.
Jogessar het as eiendomsagent gewerk sedert sy as onderhoof van die Northlands Primary School in Pietermaritzburg afgetree het.

’n Weghol-vragmotor steek by ’n gat in die muur van die Liberty Midlands Mall in Pietermaritzburg uit nadat dit eergisteraand ’n spoor van verwoesting oor die parkeerterrein gelaat het. ’n Vrou wat pas ’n restaurant verlaat het, het gesterf. Foto: Ian Carbutt
