Tutu kap wittes oor houding, kabinet oor duur motors
2011-08-12 08:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Stellenbosch
Emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu het gister harde woorde vir Suid-Afrika se wit gemeenskap gehad, asook ’n pleidooi vir lede van die kabinet om ontslae te raak van hul duur motors as gebaar dat hulle vir die armes omgee.
“Ons wit landsgenote moet die ooglopende aanvaar: Julle het almal by apartheid baat gevind. Dit beteken egter nie dat almal vir apartheid verantwoordelik is nie.
“Julle kinders kon na goeie skole gaan. Julle het in deftige buurte gewoon. Tog raak so baie van my wit landgenote ontsteld as ’n mens dit noem. Hoekom? Sommige is verkreupel deur skaamte en skuld en hanteer dit met selfregverdiging of onverskilligheid. Al twee houdings maak dat ons minder is as wat ons kan wees.”
Tutu was gisteraand die genooide spreker by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias) se bekendstelling van sy boek The Humanist Imperative in South Africa – ’n versameling essays deur voorste akademici oor onder meer hoe wedersydse respek tussen Suid-Afrikaners gekweek kan word en hoe om werklik na mekaar te luister.
Tutu het ook ’n beroep op lede van die kabinet gedoen om ontslae te raak van hul duur voertuie in solidariteit met armes.
“Daar is mense in ons land wat saans sonder ’n maaltyd gaan slaap. Ek glo jul (die ministers se) handboek maak dit moontlik om duur motors te koop. En die meeste van julle doen presies dit.
“In die gees van ubuntu pleit ek egter dat julle dit op goedkoper motors inruil. Net om aan die armes te wys dat julle vir hulle omgee.”
Volgens Tutu het Suid-Afrika berug geword vir die gaping tussen sy rykes en armes.
Hy het ook vertel hoe hy lank gelede op ’n Nigeriese vlug was met twee swart vlieëniers agter die stuur. “Ons het skielik erge stamperigheid getref en my eerste gedagte was dat daar nie ’n wit man in die stuurkajuit is om ons in veiligheid te bring nie.
“Dit is hoe ver my selfbeeld reeds weggevreet was. Wanneer jy jouself haat, projekteer jy dit op ander wat soos jy lyk. Jy sit dan met swart-op-swart-geweld.
“Apartheid het ons almal seergemaak – nie een het ontsnap nie.
“Ons almal dra die wonde met ons saam,” het Tutu gesê.
- Die Burger