‘Twee jok’ oor moord op Henning
2012-01-24 21:51
Die saak teen me. Chanélle Henning se vermeende moordenaars is op die getuienis van twee selferkende dwelmverslaafdes gegrond.
Een van hulle is ’n oudpolisieman wat van korrupsie aangekla word, “wat moontlik nie ’n baie etiese persoon is nie”, het me. Anel Jacobs, prokureur, gister in die Pretoriase streekhof gesê.
Sy verskyn namens mnr. André Gouws in sy borgtogaansoek.
Hy is een van vier mans wat van Henning se moord op 8 November 2011 aangekla word.
Tydens kruisondervraging van kapt. Peet van der Spuy, ondersoekbeampte, het Jacobs verwys na Willem Martinus Pieterse en Gerhardus du Plessis wat vroeër ingevolge ’n
pleitooreenkoms tot 18 jaar tronkstraf gevonnis is weens die moord.
Van der Spuy het getuig Gouws het op 4 November in ’n pizzawinkel met dié twee mans vergader. Hulle het ’n foongesprek, glo met Henning se man, Nico, gevolg waarin gesê is die vrou moes nie daardie naweek geskiet word nie.
Jacobs het aan Van der Spuy gesê die twee getuies jok.
“As jy ’n moord beplan en jy sit in ’n publieke plek, hoekom sal jy die foon se luidspreker aansit dat almal kan hoor?”
Van der Spuy het weer getuig dat mnr. Henning ’n moontlike verdagte is omdat hy uit sy vrou se dood “bevoordeel” sou word.
Daarop wou Jacobs weet: “Hoekom sal iemand ’n moord beplan, wetend dat hy die primêre verdagte gaan wees en die risiko loop om sy kind te verloor?”
Van der Spuy het geantwoord dat “die persoon” dalk gedink het hy kan met moord wegkom.
Die ondersoekbeampte het voorts gesê ’n ander beskuldigde, mnr. Ambrose Monye, het ’n sekere “Sly” na Du Plessis gestuur toe dié wou kop uittrek. Sly het glo gedreig om sy gesin en troeteldiere “uit te haal”.
Volgens Van der Spuy het Gouws op 7 November 2011 twee SMS’e aan mnr. Henning gestuur.
Toe hulle Gouws se foon konfiskeer, was dié twee boodskappe egter nie daarop nie. Die volgende dag het Pieterse en Du Plessis me. Henning vermoor. Hulle het met Pieterse se motorfiets na ’n motorhawe gery waar Sly vir Du Plessis opgelaai het.
Die mans het toe glo aan Monye, wat dié dag op ’n ander aanklag van moord vrygespreek is, verslag gaan doen.
“Gouws en Monye het van 1 Oktober tot 7 November meer as 120 oproepe na mekaar gemaak. Op die dag van die moord was daar 11 oproepe tussen hulle,” het Van der Spuy getuig.
Hy het gesê hy staan borgtog vir Gouws teen.
Gouws het glo in 1994 ’n skoot op sy eerste vrou afgevuur. Sy tweede vrou het in 2007 twee interdikte teen hom bekom.
Gouws se kroeg het in Augustus 2011 afgebrand. ’n Aanklag van brandstigting word ondersoek. Twee aanklagte van intimidasie word ook teen hom ondersoek.
Gouws het Sly glo ook vroeër gevra om ’n sakevennoot van hom te vermoor. Jacobs het gesê die getuienis oor Sly “laat ’n mens wonder wie die eintlike meesterbrein is.
Dié Sly word direk geïmpliseer, maar hy is nie ’n beskuldigde nie. Hy is ’n staatsgetuie.”
Van der Spuy het gesê sy ondersoek is nog nie afgehandel nie. Die borgtogaansoek gaan later voort.