Uitlanders moet uitkom, sê wat hulle doen’
2010-09-03 22:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Media24-Afrika-kantoor
Die Suid-Afrikaanse regering “weet nie presies” hoeveel Zimbabwiërs of ander buitelanders wettig of onwettig in die land is nie.
“Daarom wil ons hê hulle moet uitkom en vir ons sê wie hulle is, hoekom hulle hier is en wat hulle hier maak,” het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, gister op ’n mediakonferensie in Midrand gesê.
Op ’n vraag of die regering die vermoë het om die status van die talle Zimbabwiërs in Suid-Afrika teen 31 Desember te bepaal voordat dié wat onwettig in die land is, gedeporteer sal word, was haar antwoord: “Ja en nee, want ons weet nie presies hoeveel hier is nie. Ons sal ons spanne versterk as dit moet om die proses (sien kassie hierby) binne die tydraamwerk af te handel.”
Die regering se besluit om Zimbabwiërs wat onwettig in die land is van 31 Desember “behoorlik op te ruim”, gaan binnelandse sake se vermoë om dit uit te voer deeglik beproef.
’n Senior amptenaar van die departement het ramings deur die private sektor én nie-regeringsorganisasies dat die getal Zimbabwiërs in Suid-Afrika die 4 miljoen-kerf oorskry, verwerp.
“Ons inligting is dat daar slegs tussen 600 000 en 700 000 Zimbabwiërs hier is, die meeste wettig. Die totale aantal buitelanders in Suid-Afrika beloop tussen 1,8 miljoen en 2?miljoen,” het hy gesê.
Nie-regeringsorganisasies is dit egter eens dat die regering se besluit onuitvoerbaar is.
Nóg Suid-Afrika nóg Zimbabwe het die vermoë om die nodige prosesse in werking te stel om die miljoene onwettige immigrante in Suid-Afrika ná 31 Desember te deporteer of van die nodige verblyfdokumente te voorsien, het hulle gesê.
“Suid-Afrika kry dit nie eens reg om die daaglikse toeloop van ongedokumenteerde buitelanders by ontvangssentrums as asielsoekers te administreer nie. Hulle wag tot 48 uur lank in haglike omstandighede net om te hoor hulle moet volgende week terugkom,” het mnr. Braam Hanekom van People Against Suffering, Suppression, Oppression and Poverty (Passop) gesê.
Hy het daarop gewys dat die dokumentasie wat die spesiale vergunning aan Zimbabwiërs om vrylik oor die grens na Suid-Afrika te kom om werk te soek sedert April verlede jaar moes reguleer, nooit afgehandel is nie. Dlamini-Zuma het dit bevestig.
“Die gevolg is dat honderdduisende Zimbabwiërs hul teenwoordigheid nie amptelik kon registreer nie, al wou hulle,” het Hanekom gesê.
“Ongedokumenteerde immigrante het nie gewag om paspoorte en visums te bekom terwyl hulle vir koeëls en gewere moes vlug nie.
“Daarom het hulle niks.”
Hy raam dat minstens 200 000 Zimbabwiërs te eniger tyd sonder dokumente in Suid-Afrika skuil.
“Hulle kan hulself nie eens identifiseer nie.”
Hanekom het gesê die nuwe vereiste dat hulle na Zimbabwe terugkeer en eers daar wettige dokumen-te kry voordat hulle in Suid-Afrika om ’n wettige status aansoek mag doen, is “onhaalbaar en onregverdig”.
Sowel Passop as die Zimbabwe Exiles Forum oorweeg regstappe teen die regering se besluit om eers Zimbabwiërs en daarna alle onwettige immigrante te deporteer.