VVV oor Pretoria slaan talle dronk
2010-07-25 22:24
’n Vreemde vlieënde voorwerp (VVV) wat oënskynlik uit drie helder ligte bestaan, het inwoners van Booysens in Pretoria twee agtereenvolgende aande ure lank verbyster.
Mev. Engela van der Spuy (67), wat in Attiestraat in Booysens woon, het Beeld gekontak nadat sy dié vreemde stel ligte Donderdagaand vir die tweede agtereenvolgende aand dopgehou het.
“Ek sê nou nie dit is groen ruimtemannetjies nie,” het Van der Spuy gesê.
“Ons wil net graag weet wát dit is.”
Van der Spuy het die VVV Woensdagaand kort ná sononder vir die eerste keer in die westelike hemelruim gewaar.
“Ek kon nie die voorwerp se vorm uitmaak nie, want die drie ligte was te helder, maar dit het amper ’n hartvorm gehad omdat dit aan die bokant twee ligte, ’n blou lig aan die linkerkant en ’n smaraggroen lig direk langsaan, aan die regterkant, gehad het met ’n groot helder wit lig daaronder wat reguit afwaarts geskyn het,” het sy gesê.
Die VVV het volgens haar sowat twee uur lank doodstil in die lug gehang en toe, omstreeks 20:30, het dit stadig na onder begin beweeg, skuins na links en steeds afwaarts beweeg en agter die horison verdwyn.
Donderdagaand het die VVV wéér kort ná sononder sy verskyning gemaak en wéér teen 20:30 stadig begin afbeweeg voordat dit buite sig geraak het.
“Ek het al die bure geroep en ons het saam daarna gekyk, maar niemand kon uitpluis wat dit kon wees nie.
“Al wat ons weet, is dat dit definitief nie ’n ster of ’n gewone vliegtuig kan wees nie.”
Mnr. Henrico Swart (19), ’n buurman van Van der Spuy, wat met ’n verkyker na die VVV gekyk het, is net so dronkgeslaan.
“Dit moet ’n baie vreemde vorm hê, want selfs deur die verkyker kon ek glad nie die vorm uitmaak nie,” het Swart gesê.
“Al wat ’n mens sien, is die drie helder ligte.”
By navraag het woordvoerders van sowel die Hercules-polisiekantoor, die Johannesburgse Planetarium en die Suid-Afrikaanse Lugmag geen kennis gedra van die voorval of wat die verskynsel moontlik kan verduidelik nie.
“Ek dink nie dis ’n vlieënde piering nie, want ons sou die pieringvorm tog kon uitmaak.
“Hierdie is iets vreemder,” het Van der Spuy gesê.