Van plaas af: ‘Ons verloor alles’
2011-08-17 01:52
Die Du Toit-gesin wat Sondagaand van hul plaas in die Nyazura-omgewing in die ooste van Zimbabwe na veiligheid gelei moes word, kan nie soontoe teruggaan nie en moet nou ’n huis in Mutare huur.
“Ons het alles verloor ...
“Iemand het ons $200 (sowat R1 424) in die hand gestop om kos te koop,” het mev. Alida du Toit (63) gister gesê.
Du Toit, haar man, Dolf (67), en stiefseun, Rudolph (38), was langer as twee dae in hul plaashuis vasgekeer terwyl tientalle ondersteuners van kommodoor Innocent Chiganze van die Zimbabwiese lugmag hulle met klippe bestook en gedreig het om hulle sover te kry om die huis te verlaat.
Hulle is Sondagaand laat met enkele van hul besittings deur die Zimbabwiese polisie na veiligheid gelei.
Mnr. Du Toit sr. is by die kliniek in Mutare vir harsingskudding behandel nadat hy met ’n swaar klip teen die kop getref is.
Volgens mev. Du Toit lê daar ’n “bakkievrag vol klippe” in hul huis, al die venster is stukkend en die gordyne almal na buite uitgeruk.
Nadat hulle van die plaas af weg is, het die invallers die Du Toits se huis en Du Toit jr. s’n daar naby oopgebreek. Van die werkers het laat weet vragte vol goed is reeds weggery.
Dié werkers, van wie party al 40 jaar op die familieplaas werk, sal afgedank moet word omdat die gesin nie meer werk of geld vir hulle het nie.
Chiganze het intussen laat weet hulle moet vandag die laaste van hul goed van die plaas verwyder.
Volgens mev. Du Toit het mnr. Didymus Mutasa, nou minister in die presidensie, hulle in 2002, toe die meeste boere hul plase verloor het, belowe dat hulle die plaas Excelsior mag hou mits hulle die plaas wat nou Nyazure is, prysgee.
Hulle het dit gedoen en volgens haar is daar al honderde erwe uit die stuk grond wat hulle prysgegee het, gesny.
Mnr. Ben Freeth, wat ook met geweld van sy plaas afgesit is en nou voorsitter van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) se menseregtetribunaal is, het gister gesê die Du Toits kan maar daarvan vergeet om terug te gaan na hul plaas. “Dit gaan nie net oor gierigheid nie, maar ook om mense met ’n politieke doel te beheer.”
Volgens hom is die Du Toits die vyfde gesin in twee maande wat van hul plaas afgesit is.

Mev. Alida du Toit het dié foto van hul besetters van binne die plaashuis geneem.

Die grootte van die klippe wat na die Du Toit’s geslinger is.

Al die vensters van die Du Toit’s se plaashuis in Zimbabwe en heelparty van hul besittings is tydens die besetting stukkend gegooi.

Al die vensters van die Du Toits se plaashuis in Zimbabwe is stukkend gegooi.
Volg Beeld op Facebook en Twitter.