Verkragter van oue kry lewenslank
2011-05-13 22:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Man wat ’n 83-jarige weduwee van Lyttelton in Centurion verkrag en onherkenbaar vermink het sodat sy twee maande lank in ’n koma was voor haar dood, is gister tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Regter Vivian Tlhapi het Collin Selby Monareng (37) in die hooggeregshof in Pretoria ook tot 15 jaar tronkstraf gevonnis weens huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede.
Hy het die lewenslange tronkstraf gekry weens onderskeidelik verkragting en moord.
Me. Ines Christina Maree is twee maande ná die aanval, wat op 4 November 2007 gebeur het, in die Unitas-hospitaal in Centurion dood.
Die staat het DNS-getuienis ingedien om Monareng se betrokkenheid te bewys.
Tlhapi het Monareng, van Tembisa, gevra waarom hy na Maree se huis is.
Hy het geantwoord: “Ek het geweet sy bly alleen.”
Monareng het gesê hy het sowat twee jaar lank by ’n verkeerskruising gestaan om los werkies te soek. Hy het stukwerk as tuinier gedoen.
Maree het in ’n huis by die kruising gewoon.
“Sy was die een wat ons (die werksoekers) gegroet het. Sy was ’n gawe persoon. Sy het ander gehelp as hulle kos gevra het.
“Ek het gemeen ek sal haar waarskynlik alleen vind.”
Monareng het by Maree se huis ingebreek, haar eers geslaan en geskop en toe verkrag.
Tlhapi het gesê sy het veelvuldige breinbeserings, ernstige ginekologiese beserings en gesigfrakture opgedoen.
Die regter het Monareng gevra waarom hy dit gedoen het. Dié het gesê: “Ek het nie ’n antwoord nie.”
Hy het ’n bottel vonkelwyn, ketel en strykyster by Maree geroof.
Volgens die regter was Monareng ’n sterk, jong, seksueel aktiewe man wat ’n bejaarde vrou aangerand het.
’n Bejaarde vrou is soos ’n “klein kindjie”. Maree was totaal weerloos. Sy kon nie behoorlik sien en hoor nie.
Tlhapi het bevind daar is geen wesenlike en dwingende omstandighede waarom Monareng ’n ligter vonnis as lewenslange tronkstraf moet kry nie.