Vermiste vrou se lyk teen heining staangemaak
2009-11-15 22:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die vernielde lyk van ’n jong grafiese kunstenaar is op ’n hoewe in Muldersdrift aan die Wes-Rand gekry.
Daniëlle Lumsdale (25) het ’n stuk geskeurde materiaal om haar nek gehad en haar hande was steeds styf in ’n gebalde vuis onder haar nek vasgeklem.
Haar lyk is teen ’n heining staangemaak, maar nie vasgebind nie. Haar ken is vermorsel, haar neus gebreek en vermoedelik ingeslaan.
Sy het ’n kortbroek en ’n moulose T-hempie aangehad.
Insp. Tebogo Kgomo, polisiewoordvoerder, het gesê dis nie duidelik hoe sy vermoor is en of sy moontlik verkrag of verwurg is nie.
Me. Linda Lumsdale (53), Daniëlle se ma, het gesê sy het haar dogter op 17 Oktober laas lewend gesien toe sy saam met mnr. Timothy Dreyer (31), ’n vriend, op pad was na ’n motorfietsren in Midrand. Daniëlle en Dreyer het mnr. Douw Coetzee (35), nog ’n vriend, by die motorfietsren ontmoet en die Saterdagaand op sy hoewe in Muldersdrift gaan kuier.
Daniëlle het haar ma per SMS laat weet sy is “oukei” en dat sy die volgende dag by die huis sou wees. “Daniëlle het in Muldersdrift grootgeword.
“Sy het dit soos die palm van haar hand geken,” het haar ma gesê.
Toe Daniëlle op Maandag 19?Oktober nog nie by die huis was nie, het haar ma begin rondbel.
Dreyer en Coetzee kon nie sê waar sy is nie. Daar was glo ’n stryery tussen die twee mans die Saterdagaand, maar dis nie duidelik wat presies gebeur het of wat van Daniëlle geword het nie.
Daniëlle is die Maandag by die Muldersdrift-polisiekantoor as vermis aangemeld.
Coetzee het dieselfde dag ’n sak met Daniëlle se denimlangbroek en tekkies vir die familie gegee. Hy het aan haar ma gesê sy het dit by sy huis gelos voordat sy daar weg is.
Coetzee en Dreyer is albei vir ondervraging na die polisiekantoor geneem.
’n Polisiehond is in die soektog na Daniëlle ingespan, maar die Dinsdag het ’n tuinier op haar lyk teen die heining in ’n bos naby die hoofhek van die hoewe afgekom.
Toe haar suster later op die toneel kom, het sy gedink Daniëlle lewe nog omdat haar lyk teen die heining gestaan het.
“Sy het na haar gegaan en wou met haar praat en moes tot haar skok sien haar suster is dood,” het Lumsdale vertel.
Daniëlle was ten tyde van die moord op haar werkloos, maar was ’n opgeleide grafiese kunstenaar.
Lumsdale het gesê sy sal nie rus voordat sy antwoorde op haar dogter se raaiseldood het nie.
Sy het gesê sy is verpletter deur die marteling wat haar “liefdevolle en kunssinnige dogter” in die fleur van haar lewe moes deurgaan.
“Sy was dol oor motorfietse en diere ... en was altyd reg met ’n oulike sêding.”
Kgomo het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die saak word ondersoek.