Vermoor met nuwe mes
2010-08-01 23:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Virginia. – “Bring asseblief vir my ’n kussing, die grond is baie hard,” was die laaste woorde van ’n bejaarde man van dié dorp aan sy vrou terwyl hy met gapende wonde op die plaveisel in die agterplaas van sy huis gelê het.
Mnr. Giovanni Peripoli (74) van Virginiaweg 55 is eergister helder oordag in dié besige straat deur ’n jong man met ’n nuwe slagtersmes aangeval.
Die kartonhouer waarin die nuwe mes gekoop is, is ook op die misdaadtoneel gekry.
Peripoli is drie keer in die maag gesteek en met elke messteek is die mes gedraai sodat dit volgens paramedici op die toneel gelyk het of sy hele maag van kant tot kant oopgesny is.
Mev. Lina Peripoli het gesê sy was in die kombuis besig toe haar man omstreeks 10:30 van die dorp af teruggekom het. Hy was onder meer by die bank.
“Ek het hom my naam ’n paar keer hoor roep en is na die agterplaas, waar ek hom in ’n groot plas bloed op die plaveisel gekry het. Ek het hom probeer help, maar moes ook terughardloop om die ambulans en polisie te bel.
“Sy laaste woorde aan my was om ’n kussing te vra – die grond was baie hard en koud.”
Peripoli is deur paramedici van Netcare 911 op die toneel gestabiliseer voordat hy na die Oppenheimer-hospitaal in Welkom gebring en om 12:20 daar dood is.
Ao. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, sê volgens ’n ooggetuie het ’n jong man oor die hek gespring net nadat Peripoli by die huis gekom en die hekke agter sy motor toegemaak het.
Die moordenaar is op die dieselfde manier weer uit die erf en het om die hoek in ’n wagtende motor, vermoedelik ’n swart Chevrolet, gespring en ontvlug. Niks is gesteel nie.
Peripoli het baie jare lank as myner op Virginia gewerk en die egpaar het al hul kinders op die dorp grootgemaak. Hy het meer as 20 jaar gelede afgetree.
Hy word benewens sy vrou deur twee seuns en twee dogters – Diego van Tanzanië, Gregory van Bloemfontein, Sonja van Pretoria en Lollie van Virginia – en twee kleinkinders oorleef.