Verslankers se hart raak op hol
2010-01-23 01:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Johannesburgse kardioloog is baie bekommerd oor die verslankingsmiddel Simply Slim nadat hy vier pasiënte met hartsimptome gesien het wat dit glo gebruik het.
Een van hulle is die 20-jarige me. Lizette Roelofse van Midrand wat nog nooit hartprobleme gehad het nie, maar vandeesmaand vyf dae lank met hartsimptome in die Life Fourways- hospitaal was.
Dr. Andrew Sarkin, ’n kardioloog met twee dekades ervaring, het aan Beeld gesê hy het die afgelope drie maande nog drie sulke mense behandel.
“As kardioloog is ek baie bekommerd oor die produk. Hulle het almal simptome soos hartkloppings, kortasem, duiseligheid en abnormale EKG’s gehad.
“Een van die pasiënte se hartritme was gevaarlik uit ritme. Nog een het borskaspyn, ’n soort sentrale angina, gehad.”
Roelofse, wat minder as 60?kg weeg en die middel eintlik net vir ekstra energie wou gebruik soos ’n Simply Slim-agent glo gesê het dit sou gee, het aan Beeld gesê sy het ná ses dae erge hartkloppings gekry.
“Ek het gevoel ek kry nie asem nie en kon nie slaap nie.
“Op Vrydag 8 Januarie kon ek skielik nie meer asem kry by die werk nie. My verloofde het met my hospitaal toe gejaag.
“’n Dokter by ongevalle het ’n EKG laat neem. Hy het my dadelik laat opneem en gesê daar is iets fout met my hart.”
Volgens Roelofse het Sarkin dadelik geraai dat sy Simply Slim gebruik.
Mnr. Justin Adriaanse, nuut aangestelde uitvoerende hoof van Simply Slim, het eergister aan Beeld gesê lede van die publiek en mediese praktisyns moet wetenskaplike bewyse van hul bewerings wat onafhanklik getoets kan word aan die maatskappy voorlê.
Beeld het op 30 Desember verlede jaar ’n artikel oor Simply Slim gepubliseer ná talle lesersklagtes oor die produk.
Dit word in winkelsentrums en publikasies, asook op radio en televisie, bemark. Dit bevat onder meer bitterlemoen, ’n natuurlike middel met m-sinefrien.
Prof. Vernon Louw, hoof van kliniese hematologie aan die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit mediese wetenskappe, het gesê dit is ’n alfa-agonis wat die slagare so kan vernou dat dit bloeddruk kan verhoog.
Dr. Antoinette de Beer, ’n algemene praktisyn van Pretoria, het gesê sy het ’n paar pasiënte gesien wat Simply Slim gebruik wat oor erge hoofpyn, buikpyn, hoë bloeddruk en ’n vinnige hartklop kla.
Volgens Adriaanse het die maatskappy reeds sowat 250?000 pakkies Simply Slim (teen R590 per pakkie) verkoop en hul dokter het net sowat 500 e-posklagtes ontvang.
Die Medisynebeheerraad het gesê hy het nog nie studies gesien wat wetenskaplik bewys Simply Slim is veilig en doeltreffend nie en is besig met toetse om te bepaal wat daarin is.
Daar was glo studies op mense in China, maar dié inligting is volgens Simply Slim vertroulik.
- Beeld