Vliegtuig slaan bollemakiesie
2010-09-06 22:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die ligte vliegtuig waarin ’n instrukteur en sy student eergistermiddag in Noordwes beseer is, het kort ná opstyging bollemakiesie in die lug geslaan voordat dit neergestort het.
Dié Jabiru 160-vliegtuig het van die Brits-vliegveld opgestyg.
Die eienaar van die vliegtuig en student is mnr. Frik Marais van Phalaborwa.
Hy is in sy 60’s en is met kompressiefrakture in die Medi-Clinic in Brits opgeneem, het Beeld verneem.
Die Burgerlugvaartowerheid het bevestig ’n ondersoek is na die voorval gelas.
Mnr. Ruan Schoeman, die instrukteur, is net lig beseer.
Die twee het eergisteroggend van Phalaborwa opgestyg op pad na Pretoria toe hulle Brits vir brandstof aangedoen het.
Schoeman was in beheer van die vliegtuig toe die tuig kort ná opstyging oor die heining aan die einde van die aanloopbaan omgeslaan en op sy dak beland het.
Marais was gister in ’n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal.