Twee wipsnoetkobras het hul moses op ’n hoewe buite Pretoria
teëgekom toe ’n dapper vrou en haar twee honde hulle gepak het.
Me. Naomi Roux het eergister omstreeks 14:30 op die tweede
verdieping in haar kantoor in haar huis by die Mooiplaats- hoewes oos van
Pretoria gewerk toe sy haar twee honde buite hoor blaf en haar seuns op die eerste verdieping hoor skreeu
het.
Sy het by die venster uitgekyk en
gesien ’n slang van sowat 1,3 m is om haar labrador, Mojo, se nek gedraai.
Terselfdertyd het sy gesien hoe Salute, hul Duitse herdershond-kruising, ’n
ander slang naby ’n boom getakel het.
“Ek het die trappe afgehardloop en
vir die huishulp geskreeu om die deur oop te maak,” vertel Roux.
Die huishulp, me. Portia Moyo, het die seuns, Kairon (5) en Astin (3), by haar gehou terwyl Roux buitentoe is om
haar honde te gaan help. Sy het ’n graaf gegryp.
Toe sy by die honde kom, het sy “net begin slaan”. “Een van die
slange het intussen weggekom terwyl ek en Salute
alles moontlik probeer doen het om die ander slang van Mojo se nek af te
kry.
“Ek was gereed om ’n mes te gaan haal om die slang van die hond af te sny,” het Roux gesê.
Salute het op daardie oomblik sy tande om die slang geslaan gekry
en kon hom van Mojo afruk. Roux het die slang met
die graaf doodgeslaan.
Die kobra het Mojo op sy bolip gepik. Roux het met hom na die
Valley Farm-dierehospitaal gejaag.
“Sy gesig was opgeswel en skuim het
by sy mond uitgekom,” het Roux gister vertel.
Volgens die veearts, wat om etiese redes nie haar naam genoem wil
hê nie, is die hond
teëgif toegedien en in die intensiewesorg-eenheid geplaas.
“Dit sal so 48 uur duur voordat hy volledig herstel het.”
Salute het ook die aand vir waarneming in die dierehospitaal
deurgebring, maar is nie beseer nie. Hy is gistermiddag huis toe, maar Mojo is
gisteraand nog daar gehou totdat die swelling om sy keel gesak het.
“Dit is verskriklik om daai kobra so reg voor jou te sien staan.
Maar ek het nie gehuiwer toe ek sien my diere word aangeval nie,” het Roux
gesê.