Vrou in mynskag ‘verkrag’, vermoor
2012-02-07 22:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Vrouemynwerker by Anglo American se Khomanani-myn in Rustenburg, Noordwes, is Maandag dood nadat sy ondergronds aangerand en moontlik verkrag is.
Mnr. Neville Nicolau, hoofbeampte van Anglo American Platinum (Angloplat), het in ’n verklaring gesê die vrou is op Maandag 6 Februarie ernstig aangerand en vermoor. “Ons is besorg oor die voorval en veroordeel enige strafregtelike oortredings by ons ondernemings.”
Nicolau het gesê hulle werk nou saam met die polisie om te verseker dat die oortreders voor stok gekry word.
Brig. Thulani Ngubane, provinsiale kommunikasiehoof van die polisie, het gesê die vrou was deel van ’n skof van 12 of 13 mynwerkers wat Maandag 05:00 in ’n skag afgegaan het om hul skof te begin. Die vrou (35) was een van twee vroue wat op vervoerbande in die mynskag werk.
“Die ander vrou het na haar kollega gegaan en haar lyk in ’n plas bloed op die grond langs die vervoerband gekry. Daar was ’n rots of klip naby haar kop.”
Ngubane het gesê haar broek was afgetrek en daar word vermoed dat sy verkrag is. “Net ’n klein groepie mense was in die skag ten tyde van die aanval en niemand kon die hysbak gebruik het om af te gaan nie.”