Vrou met yster gebrand in ure lange marteling
2011-05-24 21:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Hoopstad. – ’n Egpaar van die distrik en twee bouers op hul plaas het ure van marteling en angs deurgemaak toe hulle in die plaashuis oorval is.
Mev. Gerda Olivier (59) van die plaas Novo is eergisteraand onder meer met ’n strykyster op haar bolyf en arms gebrand, maar is volgens ’n familielid nie ernstig beseer nie.
Haar man, Mel (64), is deur die groep van vyf aanvallers aangerand voordat hy saam met twee bouers wat op hul plaas gewerk het, mnre. Johan en Danie du Toit, vasgebind is.
Die aanvallers het met drie gewere, ’n pistool, geld en die Du Toits se bakkie weggekom.
Hulle het later die nag met die bakkie ’n ongeluk op die Boshof-pad gemaak en met die pistool in ’n mielieland ingehardloop.
Die drie gewere is in die erg beskadigde bakkie agtergelaat.
’n Familielid van die egpaar het gesê die Du Toits, ’n pa en seun, het by die Oliviers in die huis gebly terwyl hulle bouwerk op die plaas verrig het.
Die gewapende aanvallers het die huis omstreeks 19:30 ingekom en vuurwapens en geld geëis.
Hy sê hoewel mev. Olivier met die strykyster gebrand is, is haar beserings nie so erg dat sy hospitaalbehandeling moes kry nie.
Sers. Puleng Motsoeneng, polisiewoordvoerder, het gesê benewens die vuurwapens en bakkie is geld in die plaashuis ook gesteel.