Vrou se pa, kêrel sterf toe rowers toeslaan
2011-02-25 22:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Twee mans van Edenvale aan die Oos-Rand is doodgeskiet toe vier mense tydens ’n braaivleis deur rowers oorval is.
Mnr. Dillon Ensley (21) was Woensdag net ná 20:00 besig om vir hom en sy vriendin, me. Stacey Jackson (20), en haar ouers, mnr. en mev. Phillip (53) en
Janet (54) Jackson, in die agterplaas van die egpaar se huis in Sesdelaan vleis te braai.
Me. Jackson was by hom toe drie rowers, wat vermoedelik oor die muur gespring het, hulle met vuurwapens aangehou het.
Volgens ao. Jean Olckers, woordvoerder van die Edenvale-polisie, is die twee die kombuis ingedwing waar me. Jackson se ouers ook oorval en aangehou is.
Die rowers het die vier op die grond laat lê en hulle begin vasbind.
Mnr. Jackson het vermoedelik in ’n stadium opgespring om die rowers te konfronteer, waarna verskeie skote geskiet is. Hy is in die bolyf getref en het gesterf, terwyl Ensley, wat hom vermoedelik wou help, in die maag gewond is.
Die rowers het ná die skietery enkele goedere, soos selfone en ’n bietjie geld, gebuit en gevlug.
Ensley is na die Glynwood-hospitaal gebring waar hy in die vroeë oggendure aan sy wonde beswyk het.
Die twee vroue is tans onder doktersbehandeling. Daar was gister by Beeld se besoek niemand tuis nie.
Volgens kapt. John James, wat die ondersoek lei, is twee verdagtes reeds in hegtenis geneem.
Hulle het gister vlugtig in die landdroshof in Germiston verskyn op aanklagte van moord. Hulle word aangehou en sal weer op 11 Maart in die hof verskyn.
Daar word nog na die derde verdagte gesoek.
’n Vergadering tussen inwoners, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en die polisie oor die baie misdaad in dié woonbuurt is vir Donderdag by die Edenvale High School belê.