Huisrowers het ’n Pretoriase vrou gisteroggend
in haar oprit geskiet toe sy haar handsak in haar
motor wou bêre.
Mev. Rienie van der Linde (62) is in die linkerbobeen getref en
hospitaal toe geneem.
Skaars vier maande gelede het rowers Van der Linde op dieselfde
plek by haar huis in Annlin, in die noorde van
Pretoria, oorval en aangerand. Hulle het haar arm potblou geslaan.
Anders as gisteroggend kon sy destyds daarin slaag om haar handsak
uit haar aanvallers se hande te hou.
Gisteroggend het hulle met haar handsak en ’n skootrekenaar
weggekom.
Mnr. Frik van der Linde (72) het vertel sy vrou ry elke oggend
omstreeks 05:30 werk toe.
“Nadat Rienie destyds aangeval is,
stap ek of my dogter gewoonlik saam met my vrou buitentoe om seker te maak alles
is reg en om vir haar die hek oop te maak.
“Ek weet nie hoekom het ons dit nie vanoggend (gisteroggend) gedoen
nie. As ons het, het hulle ons miskien ook geskiet.
“Toe my vrou by haar motor kom, het een haar getackle. Sy het begin
skree. Dis toe dat hy haar skiet.” Mev. Van der Linde kon wegkom van haar
aanvaller en het na die voordeur gehardloop.
Sy het die klokkie gelui en vir haar man gesê hy moet vir haar
oopmaak, want sy is geskiet.
Die Van der Lindes se dogter, Marlisa (34), was besig om haar bed
op te maak toe sy die skoot hoor.
Sy het na die agterdeur gehardloop waar die man wat haar ma geskiet
het, reeds met sy vuurwapen gestaan het.
“Ek het gekoes die oomblik toe hy sy vuurwapen in my gesig gedruk
het,” het Marlisa gesê.
“Nog een, wat nie ’n vuurwapen gehad het nie, het vir my gesê ek
moet ‘sssjjj’. Hy het in die huis ingeloop, die
skootrekenaar geneem en weer uitgeloop.”
Die twee rowers het oor die erf se vurktandheining gespring en deur
’n oop erf langs die Van der Lindes s’n gevlug.
Mnr. Van der Linde het al lank ’n probleem met dié erf omdat dit
toegegroei is en booswigte volgens hom daar wegkruip.
Rowers het hom sowat twee jaar gelede in sy bed oorval, aangerand
en vasgebind.
Mnr. Ben Wannenburg, wykraadslid, het gesê hy is bewus van die
probleem met dié erf. Hy het onderneem om dit met die polisie en die
Tshwane-metro op te neem om dit te laat skoonmaak.
Kapt. Pinky Tshinyane, Gautengse polisiewoordvoerder, het bevestig
’n saak van huisroof word ondersoek.