Vyf gronde vir appèl uitgerafel
2012-02-10 22:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het sy aansoek om verlof tot appèl teen Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk se vonnisomskakeling in Desember op vyf gronde gebaseer.
Volgens die DKD het streeklanddros Peet Johnson van Pretoria, wat die twee se vonnis van 12 jaar tronkstraf in korrektiewe toesig omgeskakel het, gefouteer omdat Tiedt en Van Schalkwyk nie daarvoor kwalifiseer nie.
Die kommissaris van die DKD moes skriftelik oor die datum van die aansoek ingelig gewees het. Johnson het voorts, volgens die DKD, gefouteer deur ’n datum vir Tiedt en Van Schalkwyk se plasing onder korrektiewe toesig te bepaal.
Hy moes glo ook verseker het dat die slagoffer se familie toegelaat is om insette oor die paroolraad se besluit te lewer.
Laastens moes Johnson die aansoek om vonnishersiening en -omskakeling geweier het.
Die landdros het puntsgewys geantwoord dat die DKD-kommissaris nie die reg het om in te meng in besluite van ’n paroolraad nie.
Daarby mag ’n hof enige tyd ’n vonnis heroorweeg as minder as vyf jaar van die vonnis oor is.
Volgens die Strafproseswet moet gevangenes soos Tiedt en Van Schalkwyk minstens ’n kwart van hul vonnis uitdien voordat hulle in aanmerking kan kom vir vonnisomskakeling.
Hulle het hul vonnis op 11 Augustus 2008 begin uitdien. Hulle het ses maande afslag gekry weens ’n amnestie.
’n Kwart van hul vonnis is dus op 26 Junie 2011 voltooi.
Daarby sou hulle op 10 Mei 2014 in aanmerking vir parool kom, wat minder as vyf jaar ver was.
Met verwysing na die kommissaris wat nie skriftelik ingelig is nie, het Johnson gesê die wet bepaal dat óf die kommissaris óf die paroolraad ingelig moet word.
“Die ondervoorsitter van die raad en lede van die Zonderwater-DKD was daardie dag (in Desember) by die hof met die aansoek.
“Die raad se aansoek het bestaan uit skriftelike motiverings. Hulle het dus die voorgeskrewe kennisgewing oor die aansoekdatum ontvang.”
Voorts het die landdros nie die vrylatingsdatum bepaal nie, maar die paroolraad.
Johnson het gesê die oorledene se identiteit is onbekend en dat dit “hoogs onwaarskynlik, indien nie onmoontlik” sou wees om familielede op te spoor.
Dis nie die twee gevangenes wat die aansoek om vonnisomskakeling ingedien het nie, maar die paroolraad. Die direkteur van openbare vervolging het dit nie teengestaan nie.

Van Schalkwyk