WB-jolyt... skandes
2010-06-09 23:16
Joernaliste uit Spanje, Portugal, China en Suid-Korea wat in Suid-Afrika is om WB 2010 te dek, het die laaste paar dae onder gewapende rowers deurgeloop, wat paniek onder baie lede van die buitelandse media gesaai het.
In die jongste voorval is twee Portugese en een Spaanse joernalis gisteroggend in hul kamers by ’n viersterlodge aan die Wes-Rand beroof.
Boonop het die polisie ’n Suid-Afrikaanse joernalis by dié lodge aangehou en die name van polisielede uit sy notaboek gekrap.
Eergister is drie Chinese joernaliste saam met hul Suid-Afrikaanse gids van ’n kamera beroof, terwyl die hoofkontrakteur van ’n Koreaanse uitsaaimaatskappy Vrydag in die Carlton-sentrum in Johannesburg van sy paspoort en $1 500 (sowat R12 000) beroof is, berig André Damons.
Gisteroggend omstreeks 04:00 het rowers by ’n drieslaapkamer-chalet by die Nutbush Boma by Hekpoort naby Magaliesburg toegeslaan waar Miguel Serrano en José Antonio Sanz van die Spaanse nuusagentskap Marca en die fotograaf Antonio Simoe van die mediagroep O’Joggo geslaap het.
Volgens die Portugese Jornal de Notícias is Simoe in die nag wakker gemaak met ’n vuurwapen teen die kop.
Die rowers het glo komberse oor die mans se koppe getrek terwyl hulle twee skootrekenaars, twee kameras, drie paspoorte, drie selfone, almal se skoon klere en selfs skoene in hul tasse, beursies en minstens R30 000 kontant bymekaar gemaak het.
“Al wat ek oorhet is my vuil wasgoed en akkreditasie,” het Serrano aan die Spaanse Radio Marca gesê.
“Ons het aan die Portugese (sokker-)federasie verslag gedoen dat geriewe hier veel te wens oorlaat.”
Mnr. Nick en me. Tracy Mauerberger, eienaars van die lodge, het gesê hulle het sedert 1994 nog nooit ’n gewapende rooftog daar gehad nie en is verpletter daardeur.
“Ek doen elke aand ook self patrollies op ’n kwadfiets, maar ons was nou genoop om veiligheid met gewapende wagte te kry,” het mnr.
Mauerberger gesê.
Serrano het aan Beeld gesê: “Ons is beslis nie gelukkig hier nie. Ons gaan vanaand Pretoria toe om nuwe paspoorte te kry en gaan daarna in Johannesburg iewers slaap. Ek kom nie vanaand weer terug hiernatoe nie.”
Brig. Sally de Beer, polisiewoordvoerder, het gesê: “Ons is besig om leidrade op te volg en is vol selfvertroue dat die skuldiges vasgetrek sal word.”
Verskeie plaaslike en buitelandse joernaliste het die lodge gister besoek om oor die rooftog verslag te doen.
Charl du Plessis van The Times het vertel nadat hy genl. Tirani Maswanganyi, gebiedsbevelvoerder van die groter Krugersdorp-gebied, en kol. Henry Mologai, hoof van die misdaadvoorkomingseenheid in Krugersdorp, se name in sy notaboek neergeskryf het, het laasgenoemde dit in die boek uitgekrap.
Du Plessis is toe ’n uur lank vir ondervraging aangehou. Ná ingryping van sy redakteur en nasionale en provinsiale polisielede is hy om verskoning gevra en toegelaat om sy werk te doen.
Hy is luidens ’n verklaring van die regering se kommunikasie-en-inligtingsdiens (GCIS) weens inmenging met polisiepligte aangehou.
Sondagaand het ’n Chileense sokkertoeris by die ontvangslokaal van die vyfster-Pine Lake Inn buite Witrivier ingestap terwyl vier rowers personeellede aangehou het, berig Buks Viljoen. Hulle het met R2 000 van die hotel en die toeris se selfoon en skoene gevlug.
Omdat daar so baie buitelanders vir WB 2010 in die land is, is daar ’n kans dat van hulle tydens die toernooi ’n slagoffer van misdaad sal word, het die veiligheidskenner dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) gister gesê, berig Sarel van der Walt.
Burger het gesê sogenaamde straatrowery hou die grootste gevaar vir die buitelanders in.
Daar is volgens hom met WB 2010 60 000 meer polisielede in die land as met die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2003 in Suid-Afrika, toe daar geen ernstige voorvalle was nie.
Die plaaslike reëlingskomitee is volgens mnr. Rich Mkhondo, kommunikasiehoof, bewus van die jongste voorval, berig Retha Grobbelaar.
“Ons wag op die polisie se ondersoek wat ons meer inligting sal gee,” het Mkhondo gesê.