Wag geboei, twee keer in kop geskiet
2010-07-14 22:29
Meyerton – ’n Wag van die veiligheidsmaatskappy ADT wat op ’n huisalarm gereageer het, is gisteroggend vermoedelik met sy eie handboeie geboei voordat hy op teregstellingswyse doodgeskiet is.
Die vermoede bestaan dat mnr. Lazarus Matla (49), ’n reaksie-beampte, ’n onbekende aantal huisrowers op ’n hoewe in Boltonwold betrap het toe hy gaan ondersoek instel het.
Die alarm het om 10:31 afgegaan.
Mnr. Theuns Erasmus (29), seun van mnr. Jurie Erasmus (56), eienaar van die hoewe net buite Meyerton waar Matla doodgeskiet is, het later sy lyk gevind.
Matla is die pa van ’n 13-jarige tweeling.
Volgens Erasmus sr. het hy sy seun, wat daar naby woon, gebel kort nadat die veiligheidsmaatskappy hom laat weet het die huisalarm is geaktiveer.
Erasmus sr., sy vrou, Elize (52), en hul seun, Werner (24), wat al drie in die hoewehuis woon, was ten tyde van die voorval by die werk.
“Theuns en mnr. Bertus van Vuuren, sy skoonpa, is na ons hoewe om te gaan kyk wat aangaan en het die veiligheidswag agter langs een van die buitegeboue gevind,” het Erasmus sr. gesê.
Matla het, met sy koeëlvaste baadjie steeds aan, op sy maag gelê. Sy hande is agter sy rug geboei en hy is vermoedelik twee keer in die voorkop geskiet.
Sy ADT-voertuig het verlate met oop deure agter die hoewehuis gestaan.
“Matla se handvuurwapen word vermis en die polisie ondersoek die moontlikheid dat hy met sy eie wapen doodgeskiet is,” het kapt. Shado Ma-shobane, polisiewoordvoerder, gesê.
“Dit is uiteraard nie bekend of die moordenaar(s) vooraf gewapen was nie,” het hy gesê.
“Dit is ook nie bekend na hoeveel verdagtes ons soek nie en niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.”
Volgens Mashobane het die skuldige(s) nie daarin geslaag om by die hoewehuis in te breek nie.
Mnr. Roy Rawlins, besturende direkteur van ADT Johannesburg, het gistermiddag gesê hy is geskok.
“Ons reaksie-offisiere plaas hulself daagliks in die spervuur, maar dit bly skokkend om sulke nuus te ontvang,” het hy gesê.
“Ons meegevoel gaan uit na die vriende en familie van reaksie-offisier Matla. Hy was sedert 2006 lid van die ADT-familie en was gewild en bekend in die gebied.”
Volgens Rawlins is Matla se dood ’n groot verlies vir die maatskappy.
Die polisie ondersoek ’n moordsaak.

Die moordtoneel waar ’n ADT-sekuriteitswag op ’n Boltonwold-kleinhoewe net buite Meyerton op teregstellingswyse agter die buitegebou doodgeskiet is nadat hy vermoedelik huisrowers op die perseel betrap het nadat die huisalarm afgegaan het en hy soontoe is om ondersoek in te stel.
