Wagte kry babaseun in ’n appelboks
2010-02-08 11:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Durban. – Veiligheidswagte wat hulle gestaal het vir gewapende rowers het op ’n klein vondeling in ’n appelboks afgekom en hom terstond Apple genoem.
Volgens mnr. Prem Balram, woordvoerder van die veiligheidsmaatskappy Reaction Unit South Africa, is reaksiebeamptes eergister omstreeks 18:30 na ’n winkelsentrum in Verulam aan die noordelike buitewyke van die Durban-metropool gestuur nadat ’n veiligheidswag die noodknoppie gedruk het.
Die wag het die knoppie gedruk en per radio hulp ontbied toe hy ’n vrou gewaar het waar sy by die vullis agter die kompleks doenig was.
“Die sentrum is veronderstel om daardie tyd van die dag verlate te wees,” het Balram gesê.
Toe die alarm afgaan en sy die tweerigtingradio hoor, het die vrou laat spaander.
“Reaksiebeampte Kiran Ramjogi het ná sy aankoms die agterkant van die gebou met sy vuurwapen in die hand genader en verwag om ’n gewapende verdagte teë te kom,” het Balram gesê.
Die agterkant was verlate, maar Ramjogi het ’n geluid in ’n vullisblik gehoor. Binne-in het hy ’n appelboks gewaar.
Toe hy dit oopmaak, het Ramjogi op die baba afgekom waar hy met sy gesig na onder gelê het.
Ramjogi het die baba warm toegedraai en babamelk gevoer.
“Ons het die seuntjie Apple genoem, want hy’s in ’n appelboks gekry,” het Balram gesê.