Weermag moet terug na die grense – Mthethwa
2010-09-05 22:20
“Misdaad in ons land het ’n unieke, gewelddadige karakter.”
Só het mnr. Nathi Mthethwa, minister van die polisie, eergister op ’n teen-misdaadkonferensie by die NG gemeente Kameeldrift, noordoos van Pretoria, gesê.
Tydens die konferensie is maatskaplike ekonomiese probleme, alkohol, dwelms, vuurwapens en ander strategiese kwessies bespreek in ’n poging om misdaad te bekamp.
Mthethwa, wat deur die Kameeldrift-gemeenskap as ’n vriend beskou word, het gesê die regering is reeds besig om sy veiligheidsnet by die land se grensposte stywer te trek.
“Van die misdadigers wat in Suid-Afrika gearresteer is, is afkomstig van ons buurlande. Ek kon nie verstaan waarom die weermag van die grense afgehaal is nie en het my daarop toegespits om te verseker dat die weermag terugkeer na die grense.”
Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), het op die konferensie gesê hy vind misdaad in Kameeldrift aansienlik hoog.
“Suid-Afrika het ’n gewelddadige misdaadprofiel en rooftogte by huise en besighede, asook motorkapings, bly hoog, met huisrowe aan die voorpunt.”
Burger het Kameeldrift se misdaadstatistieke van verlede jaar bestudeer en gesê: “Die gemeenskap moet baie getraumatiseerd wees en die misdaadsyfers ondersteun dit.
“Dit is egter snaaks dat huis- en besigheidsrooftogte en motorkapings styg terwyl die polisie se begroting en sy lede ook toegeneem het.
’n Mens sou verwag dat die groter begroting en groter aantal polisielede ’n groter impak op misdaad sou hê,” het hy gesê.
Volgens Burger het hy samesprekings met die bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) gehou en gevind kitsbankrowe styg terwyl bankrowe en transitorowe gedaal het.
Hy het benadruk dat die polisie nié misdaad kan voorkom nie.
“Ek het ’n probleem met gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) omdat hulle verwag die polisie moet kwessies buite die polisie se veld, soos sosiale probleme, oplos.
“Dit is onrealisties en daarom is ek ten gunste van sektorpolisiëring.”
Mthethwa het gesê ’n GPF is ’n belangrike stuk gereedskap om misdaad te beveg, maar gemaan dat politieke partye nie die GPF’s moet gebruik om hul eie politieke veldtogte en propaganda te bevorder nie.
“Misdaad ken geen kleur of ras nie. Hier moet ons saamstaan,” het hy gesê.
Mnr. Douw Grobler, uitvoerende direkteur van Prison Fellowship South Africa, het gesê dit is onmoontlik om die meeste gevangenes te rehabiliteer as hulle nie die regte waardes aanleer nie.

Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies, het eergister by ’n misdaadkonferensie in Kamdeeldrift, noordoos van Pretoria, gesê dié gebied se inwoners is getraumatiseerd deur die hoë misdaadvlakke daar. Foto's: Wayne Coetzee