Werker wat 3 in huis uit wraak doodsteek, gevonnis
2011-03-15 22:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Voormalige werknemer wat glo uit wraak ’n hele gesin “verwoes” het, is gister in die hooggeregshof in Johannesburg tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Stephanus Modise (35) is vroeër skuldig bevind aan die moord op mnr. Douwe Gezinus Bijkersma (57), sy vrou, Hendrika Johanna (57), en haar oppasser, me. Gelske Afke Wouda (40). Hulle is op 1 Mei 2008 in die Bijkersmas se huis in Florida, Roodepoort, vermoor.
Mev. Bijkersma het weens artritis en kanker die gebruik van haar bene verloor en was in ’n rolstoel.
Die oorledenes sowel as mev. Bijkersma se ma, me. Johanna Barendina Durieux (87), is met ’n mes aangeval. Mnr. Bijkersma is 28 keer gesteek, sy vrou vyf keer, Wouda nege keer en Durieux drie keer.
Durieux, wat in ’n tehuis vir bejaardes in die omgewing woon, het die vakansiedag by die Bijkersmas deurgebring.
Twee van die Bijkersma-egpaar se kinders het op die gru-toneel afgekom.
Durieux het die aanval oorleef, maar was volgens haar kleinseun, die operasanger Douwe Bijkersma jr., erg getraumatiseer deur die voorval. Sy het
erge pyn verduur en dikwels in die middel van die nag geskree en na haar vermoorde dogter gevra. Sy is drie maande ná die voorval oorlede.
Bijkersma jr. het ter strafverswaring getuig die voorval het hom so geraak dat hy ontsteld word elke keer wanneer hy optree en iemand in ’n rolstoel die teater binnekom.
Modise, wat gister geen emosie in die hof getoon het nie, was twee jaar lank ’n werknemer van die Bijkersmas. Hy het op hul erf gewoon en elke dag kos by die gesin gekry. Mev. Bijkersma het dikwels vir hom gebid en reëlings begin tref dat hy verder kon studeer.
Me. Anneke Bijkersma, die egpaar se oudste dogter, het getuig Modise en haar ouers het aanvanklik ’n goeie verhouding gehad en haar ma het hom vertrou.
Die verhouding is versuur toe Modise op ’n groter salaris aangedring het wat die Bijkersmas nie kon bekostig nie. Dit het Modise glo aggressief gemaak. Hy het ses maande kennis gekry om ander werk te vind.
Ná sy afdanking in Januarie 2007 is hy na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), waar hy die saak verloor het.
Die KVBA het beslis die gesin moet Modise R4 000 betaal, ’n bedrag waarmee hy glo nie tevrede was nie. Die staat beweer dít was die motief vir sy optrede.
“Moet almal wat nie met die howe se beslissings tevrede is nie nou uitgaan en mense doodmaak?” het adv. Evidence Riba, aanklaer, gister aan regter Jeffrey Mathabata gevra.
Die oorledenes se kinders, familie en vriende het in twee lang rye in die hofgalery gesit en mekaar betraand ná die vonnisoplegging omhels.
“Ek is net bly dit is nou uiteindelik verby,” het mev. Minx Millar, mnr. Bijkersma se suster, buite die hof gesê.